Aansoek na Hooggeregshof in Montana-saak

Landdroshof-Oudtshoorn-300x214
• Vonke spat oor beweerde onreëlmatighede 

Deur Garnett Wicomb
DIE regsverteenwoordiger van ’n vrou wat van die diefstal van meer as R500 000 aan­gekla word, gaan die Hooggeregshof nader met ’n aansoek om spesiale hersiening van die saak.

Werner van Rensburg, regsverteenwoordiger van Emmerentia Weyngardt, het Maandag in die Oudtshoorn Streekhof beswaar aangeteken teen be­weerde growwe onreëlmatighede in die regs­proses teen Weyngardt. Sy is ’n voormalige werk­nemer van die Montana Gastehuis op Schoe­- manshoek en word daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 altesaam R557 707,15 van die gastehuis gesteel het.

Sy ontken skuld.

“Die verrigtinge is niks werd as die goue reëls van die reg oorskry word nie,” het Van Rensburg gesê.
Die saak is Maandag deur streeklanddros LA Wilkens tot 14 November uitgestel vir ’n beslis­sing van die Hooggeregshof.

Van Rensburg het Maandag voordat die verhoor met die getuienis van die eienaar van die Montana, Wolfgang Beitz, kon begin, beswaar gemaak dat sy kliënt nie ’n regverdige verhoor kry nie.

Volgens van Rensburg het hooflanddros Jaco Lamprecht glo geweier dat die verdediging ’n lasbrief kon uitreik om getuies te dagvaar. Hy het beswaar gemaak dat die staat nie die name van verdere getuies aan die verdediging bekend maak nie en gesê die gesloer met die saak omdat dit meermale uitgestel word, kom neer op “konstruktiewe” ontneming van sy kliënt se reg op regsverteenwoordiging van haar keuse omdat sy later nie meer regsverteenwoordiging sal kan bekostig nie.

Van Rensburg beweer ook dat die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, na haar getuienis in die hofsaak, onreëlmatiglik met sleutelgetuies in die hofgange gekonsulteer het.

Hy het selfoonfoto’s aan die hof voorgelê ter stawing van sy aantyging.

Hy beweer voorts dat Burger teenwoordig was tydens ’n konsultasie wat die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, met Beitz gevoer het.

Volgens Van Rensburg is dit ongrondwetlik, teenstrydig met die Strafproseswet en hofreëls en is dit totaal ongehoord.

Streekhoflanddros LA Wilkens het aan Weyers gesê dat sy ’n platform vir ’n regverdige verhoor moet skep.

Weyers het heftig beswaar gemaak teen Van Rensburg se aantygings. “Dit is ernstige bewerings wat deur die verdediging gemaak word,” het sy gesê. “Die ondersoekbeampte was nie by konsultasies betrokke nie.”

Oor die vertraging van die saak het Weyers gesê dat dit nie die staat se toedoen is nie. “Die be­skuldigde se huidige regsverteenwoordiger is haar derde tot dusver en dit is beslis nie die staat wat die saak laat sloer nie,” het Weyers gesê.

Sy het ontken dat sy ’n dokument gesien het waarin die verdediging versoek dat ’n werknemer van MTN gedagvaar moet word om oor selfoonrekords te getuig.

Oor beweerde uitstaande verklarings wat nog bekom moet word, het die landdros opgemerk dat dit nie praktyk is dat ’n saak begin terwyl alle verklarings nog nie geneem is nie.

• Die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, het vroeër in die hofsaak getuig dat die beskuldigde by verskeie geleenthede dieselfde bedrae wat elektronies aan verskaffers betaal is, ook na haar eie bankrekeninge oorgeplaas het. Sy het ook by ander geleenthede aangedui dat geld na bankrekenings van verskaffers oorgeplaas is, maar volgens haar persoonlike bankstate is dit in haar eie bank­re­ke­ninge betaal.