DIE jaarlikse Kansa Relay for Life vind weer die Saterdag deurnag op Oudtshoorn plaas.
Dit is ’n hoogtepunt op Oudtshoorn se jaarlikse gebeurlikheidskalender en tegelykertyd ’n byeenkoms vol pret en vrolikheid maar ook een wat ’n mens diep aangryp.
Die Relay for Life is ’n fondsinsamelingsgeleentheid vir Kansa en wil ’n bewustheid oor kanker skep.
Dit vind deurnag plaas met spanne wat om die atletiekbaan stap.
Riana Lindeque, voorsitter van die Relay for Life-komitee, het die deelnemende spanne wat vir die Relay ingeskryf het en alle voornemende besoekers versoek om die geleentheid saam te kom geniet.
“Bring jou positiwiteit en vrolikheid na die geleentheid. Onthou ook om kontant te bring vir kos by die stalletjies en iets warm vir die koue oggendure.”
Toegang vir dagbesoekers is R40 tot 22:00 en R70 deurnag. Die hekke sluit om 22:00, en sal ook tydens die openingseremonie tussen 18:00 en 18:45 gesluit wees.
Die program skop Saterdag om 18:00 af met die afsluitingseremonie wat Sondagoggend om 05:30 begin.
Die volledige program lyk so:
18:00: Openingseremonie, 19:15: Oorwinnaarsrondte, 19:45: Spanne met bewusmakingsplakkate, 20:45: Versorgersrondte,
21:00: Luminaria (almal met wit klere), 22:00: Tema – wêreldsport, 23:00: Tema – cross dressing, 24:00: Tema – klaasvakie,
01:00: Tema – onder die see, 02:00: Tema – agteruit in pers, 03:00: Tema – kaktus op die vlaktes, 04:00: Tema – herwinning (recycle-klere), 05:00: Fight back, 05:15: Prysuitdeling, 05:30 Diens en afsluiting.