DIE Groter Oudtshoorn-raad het goedkeuring verleen tydens die onlangse raadsvergadering dat voorstelle vir ’n winkelsentrum gevra kan word, maar so ’n winkelsentrum vir die dorp is nog nie goedgekeur nie, sê die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe.
Mangqwengqwe het namens die munisipaliteit geantwoord op navrae van Die Hoorn oor projekte waarna die DA-leier, Mmusi Maimane, in ’n verklaring verwys wat na sy besoek aan Oudtshoorn verlede week uitgereik is. Maimane het gesê ’n winkelsentrum, mini-winkelsentrum in Springbokweg in Bridgton en ’n Chrysalis Akademie is onder meer vir Oudtshoorn op pad.
Mangqwengqwe sê die munisipaliteit se stadsbeplanningsafdeling is tans besig met ’n proses om ontwikkelingvoorstelle te vra vir die driehoek waar die pad na Calitzdorp en Mosselbaai net buite Oudtshoorn vurk. Dié voostelle mag ’n winkelsentrum insluit maar enige lewensvatbare voorstelle sal oorweeg word.
Ten opsigte van ’n mini-winkelsentrum in Bridgton, ’n projek waarmee jare gelede begin is en wat intussen doodgeloop het, word die oordrag van die terrein tans deur ’n plaaslike prokureursfirma hanteer. Bouwerk daar kan dalk vroeg in 2018 begin.
Die munisipaliteit het ook aangedui dat hulle in samewerking met die Eden Distriksmunisipaliteit ’n proses fasiliteer vir die daarstel van ’n satellietkampus vir die Chrysalis Akademie. ’n Moontlike terrein is reeds geïdentifiseer.
As alles glad verloop, sal Oudtshoorn die eerste dorp in die Eden Distriksmunisipaliteit en buite Kaapstad in die Wes-Kaap wees wat so ’n Akademie het. Die Akademie is ’n inisiatief van die Wes-Kaapse regering in reaksie op die hoë misdaadsyfer en dwelmgebruik en bied ’n bemagtigingsprogram vir jongmense aan.