Vaarwel Freda

Soos ons Freda sal onthou (bo en onder)

Freda en haar vier kinders, 1967.

Mev Freda van Tonder (nee Stander), bekende inwoner van Oudtshoorn, is Saterdagoggend, 29 Junie 2019, op die geseënde ouderdom van 90 plus sag in haar slaap oorlede. Sy was die afgelope vyf jaar ’n inwoner van die ACVV Tuishuis Siekeboeg.

Freda is gebore op 27 Augustus 1928 en het grootgeword op ’n plaas op Rooiheuwel buite Oudts­hoorn, waar haar ouers, Awie en Emmie Stander, geboer het. Hulle was ses kinders, Isabella (Bellie), Christiaan (Chrisjan), Marthinus (Tienie), Petronella (Petro), Fredericka (Freda) en Naomie.

Sy was by die Rooiheuwel-plaasskool op laerskool en het aan die Hoër Meisieskool op Oudts­hoorn gematrikuleer. Rekeningkunde is die vak waarin sy altyd uitgeblink het. Sy was ook trots daarop dat sy haar Bybelkennis-eksamen met lof geslaag het. Freda het aan netbal, tennis en jukskei deelgeneem. Sy was ook baie kunstig en het na matriek onder andere vir die fotograwe Van Dyke Studios en E.D. Gibson Studios op die dorp ge­werk. Hierna het sy ook vir vier jaar by Oudts­hoorn Footwear (Pty) Ltd kantoorwerk gedoen.

In die vroeë 1960’s begin Freda en haar man, Jim, hul eie motor-herstelonderneming, Van Tonder’s Garage. In 1975 word Freda ook die eerste vroulike sekretaris van die Motor Industrieë Fe­derasie van Suid-Afrika. Sy het in haar later jare ook die boekhouwerk vir Pit Stop op Oudtshoorn behartig. Na aftrede het sy haar seun, Derick, gehelp om ’n viswinkel te begin en het sy sy boekhouding vir hom gedoen.

Freda was lief vir kuns, kultuur en musiek en veral sang, asook vir blokkiesraaisels en stap in die natuur.

Sy het tot in haar laaste jare graag Volks­liedjies en Gesange gesing. “Al die veld is vrolik” en “Wat ’n vriend het ons in Jesus” was gunste­linge. Haar bobaas vrugtekoeke het ook dikwels Kersgeskenke geword.

Sy het die meerderheid van haar familie, benewens haar jonger suster, Naomie Coetzee, so­wel as baie van haar vriende, ver oorleef. Gerhard, haar derde oudste seun, is in 1995 tragies op 37-jarige ouderdom oorlede. Haar gewese eggenoot, Jim, is ook reeds in Augustus 2013 oorlede.

Dit is met groot hartseer en liefde wat haar kennisse, vriende, en veral haar kinders en hul eg­ge­note en gewese eggenote, Johan en Heloise, Derick, Lucia, Rusla, Isma, Kirstin Marlene en Henning Pieterse, en ook die kleinkinders, Morne, Gerhard, Aimee en Rudi van Tonder, asook Lara Pieterse, van hul vriendin, Ma, skoonma en ouma Freda afskeid neem.