Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man wat daarvan aangekla word dat hy Kersfeesaand 2016 ’n jong man in die Face da Bass Nagklub op Oudtshoorn doodgesteek het, is Maandag nog ’n keer in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel – die keer omdat die betrokke landdros nie teenwoordig kon wees nie.
Alfonso Malgas staan tereg op ’n klagte van moord op die 19-jarige Adrian Oliphant.
Malgas pleit onskuldig omdat hy homself verdedig het toe ’n groep van agt mans, waaronder die oorledene, hom glo aangeval en hy twee keer na hulle gesteek het.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het dit aan Malgas gestel dat hy sy weergawe van die aand se gebeure aanpas.
Hy het nie in sy verklaring en ook nie in sy getuienis melding gemaak van beserings wat hy opgedoen het nie.
Volgens Malgas het hy nie gedink dit is belangrik nie en ook daarvan vergeet..
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius wat die week sake in Mosselbaai aanhoor.
Die saak is deur landdros Ntsoki Moni voorlopig tot 9 Julie 2019 uitgestel.