Carel Strauss. (Foto verskaf.)

Die erewag Vrydag by Carel Strauss se treurdiens. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
OUDTSHOORNIETE het verlede Vrydag in groot getalle afskeid geneem van ’n bekende en geliefde polisiebeampte van die dorp, ao Carel “Vetkoek” Strauss (52).
Familielede van Strauss het deur ’n erewag van polisiebeamptes die NG Kerk Wes in Buitekantstraat ingestap vir Strauss se roudiens.
Strauss, wat 33 jaar lank lid was van die SAPD, is verlede Dinsdag (19 Februarie) na ’n kort siekbed aan natuurlike oorsake oorlede.
Hy is die voorafgaande Sondag in ’n plaaslike hospitaal opgeneem, en Maandag na die Mediclinic George oorgeplaas, waar hy die Dinsdag kort voor 01:00 oorlede is.
Behalwe vir sy vriende en familie, is die volgepakte roudiens bygewoon deur onder meer lede van die patologie-eenheid, die plaaslike verkeersdiens en bekende sakelui.
Strauss se skielike heengaan was ’n groot skok vir almal wat hom geken het.
“Visserman, mense-mens, Vetkoek, toeterbek, ’n ware polisieman wat altyd tyd vir ander gehad het.” Só is hy deur Pieter Strauss, ’n neef, tydens die roudiens beskryf.
“Hy het gereeld met naweke wat hy nie gewerk het nie, op die sokkerveld in Lategansvlei saam met die plaaskinders sokker en rugby gespeel. Hy was lief vir mense,” het sy broer, Johann Strauss, gesê.
Strauss was vanaf 1986 op Oudtshoorn gestasioneer en het by sigbare polisiëring wat verbonde was aan landelike veiligheid gewerk. Hy het sewe medaljes, waaronder drie vir getroue diens, tydens sy jare as polisiebeampte ontvang.
Strauss word oorleef deur twee kinders, Piet Louw (21) en Jana (23), sy moeder, Hester Strauss (78), twee susters, Wilma en Elré, en ’n broer Johan. ’n Familielid het Die Hoorn versoek om almal te bedank wat die roudiens bygewoon het en hulle ondersteun het.