Spieskamp-huise sloer steeds

Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Bonginkosi Madikizela, spit in 2015 die eerste sooi vir die Spieskamp-behuisingsprojek. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
’N GRONDEIENAAR wat glo nog nie toestemming gegee het vir die bou van ’n reservoir op sy grond nie, veroorsaak na bewering dat ’n behuisingsprojek in Spies­­kamp, Schoemanshoek, nou al langer as drie jaar steeds sloer.

Die projek is in 2015 met groot fanfare deur die Wes-Kaapse minister van mens­like nedersettings, Bonginkosi Madiki-zela, by die Schoemanshoek Kleuter­skool bekend gestel.

Begunstigdes wat nog leef en kinders van begunstigdes wat reeds oorlede is, kla steen en been omdat hulle in haglike toestande woon, van nêrens hulp kry nie en die huise nie gebou word nie.

Een van hulle, Mieta Botha (61), wat as 18-jarige by die destydse Spies-tabakfabriek begin werk het, sê haar huis kan enige tyd op hulle inmekaar val.

“Ons slaap onrustig, veral wanneer dit reën en die wind sterk waai.”

Volgens haar was sy al menigmaal by die Oudtshoorn Munisipaliteit. Sy sê die meeste van die begunstigdes het by die destydse

Spies-tabakfabriek op Schoemanshoek gewerk todat dit gesluit is.

Sy het 37 jaar as ’n roltabakdraaier gewerk en op 55 afgetree.

’n Familielid van nog ’n begunstigde, Jennifer Booysen, sê hulle beplan om die komende toerismeseisoen die pad na die Kango

Grotte vir verkeer te sluit om soos sy dit stel “die wêreld se oë op ons te kry”.

Volgens haar is toilette wat by die ou huise aangebring is in so ’n toestand dat dit onbruikbaar en onhigiënies is.

“Ons is nou moeg om bossies toe te gaan. Dis mos onmenslik in vandag se lewe.”

Sy het saam met haar tante, Katrina Ayford (73), ook ’n begunstigde wat reeds oorlede is, gewoon.

Madikizela het by die bekendstelling van die projek gesê dat dit uniek is en die eerste keer dat sy departement, die munispaliteit en landbou hande gevat het.

Die grond vir die nuwe huise is deur ’n plaaslike boer, Pierre Schoeman, ge­skenk. Schoeman en die destydse burgemeester, Wessie van der Westhuizen, het die sooispitgeleentheid bygewoon.

Die projek behels die bou van 78 huise met die eerste fase die opgradering van bestaande huise en infrastruktuur asook die oprigting van die eerste 12 huise.

Toilette is aangebring, maar is tans in onbruik omdat dit nie instand gehou word nie. Dit behuisingsprojek was die inisiatief van Piet Lodder wat jare lank by landbou betrokke was.

Die planne vir die nuwe huise is tydens die geleentheid aan die begunstigdes en gaste vertoon.

Volgens Shehaam Sims, waarnemende direkteur strategiese en menslike nedersettingsdienste by die munisipaliteit, het die munisipaliteit en Wes-Kaapse re­ge­ring tot dusver baie hard gewerk aan die beplanning van die projek, maar is infrastruktuur vir water en elektrisiteit nodig.

“Ons het toegang tot naburige grond nodig en ons was tot nog toe nie suksesvol om toestemming te kry vir die bou van ’n reservoir op dié grond nie.

“Die eienaar van die grond was aanvanklik inskiklik, maar sy goedkeuring is onderhewig aan sekere voorwaardes,” lui Sims se verklaring.