‘Beskuldigde en sy suster het my so geslaan’

Natasha Mei in ’n rolstoel sedert haar aanranding.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen Enver Campher wat daarvan aangekla word dat hy die ma van sy kind, Natasha Mei (31), vir drie dae aangehou, gemartel en so ernstig aangerand het dat sy vandag met ’n rolstoel oor die weg moet kom en nie behoorlik kan praat nie, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof tot 12 September uitgestel. Die hof vra vir ’n mediese rekord van Mei voor die beweerde aanran­ding.

“Dit is die beskuldigde en sy suster wat my so geslaan het,” het Mei volgens die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, in haar eerste verklaring aan hom gesê.

Campher staan tereg op klagtes van menseroof en poging tot moord, maar pleit onskuldig.

Mei is glo in die slaapkamer van sy suster, Ashley Campher, toege­sluit en wreed aangerand. Sy kan na die beweerde aanranding nie sinvol met familie of vriende kommunikeer nie en is in ’n rolstoel.

Le Roux het verlede week getuig dat sy nie in detail kan vertel wat die betrokke naweek met haar gebeur het nie.

Volgens hom het hy haar die betrokke dag bebloed op ’n matras in die woning van Ashley Campher aan­getref. Bloedspatsels was oral op die vloer en muur en Mei kon nie praat nie. “Haar gesig was erg ge­swel en haar oë toe,” het Le Roux getuig. Geen wapen kon op die toneel gevind word nie

“Daar was bloedspatsels oral op die vloer tot in die slaapkamer en die beskuldigde was toe reeds in ’n po­lisievangwa.”
Volgens Le Roux kon hy eers drie of vier weke na die voorval ’n ver­klaring van Mei afneem. “Sy het baie onsamehangend gepraat.”

Campher se regshulpprokureur, Eugene Roos, het ’n verklaring aan die hof voorgehou waarin Mei sê dat sy deur die beskuldigde en sy suster aangerand is.

“Ek weet dat Enver en sy suster my so geslaan het. Ek weet nie hoe­kom hulle my so geslaan het nie.”

Volgens Le Roux was ’n familielid van Mei, Emmerentia van Hensen, teenwoordig toe Mei die verklaring gemaak het. Roos het egter kapsie gemaak teen die inhandiging van die verklaring as bewysstuk omdat dit nie beëdig is nie.

Van Hansen het getuig dat sy Mei ’n dag voor die beweerde voorval ge­sien het en sy daardie dag “reg” was. “Sy kon loop en normaal praat.”

Nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. kon sy nie meer op haar eie loop nie en ook nie reg praat nie. “Ons moet haar meeste van die tyd help en as sy alleen wil loop, moet sy aan iets vashou. Sy is vandag met ’n rolstoel by die hof.”

Volgens Van Hansen kan Natasha nie meer normaal kommunikeer nie.

“Sy wil nie praat oor wat gebeur het nie en daar is nie veel verbetering in haar toestand vandat sy uit die hospitaal ontslaan is nie.”

Volgens Van Hansen was Mei se vingers die dag stukkend en was daar ’n gat in haar kop. Mei het haar toe meegedeel dat Campher haar gebyt het.

Volgens Van Hansen het Mei epi­leptiese aanvalle gekry en was Campher bewus daarvan.

Die twee se baba is van hulle weggeneem omdat hulle glo gedurig baklei het.

Streeklanddros Retha Pretorius het die saak op versoek van die staats­aanklaer, Hyron Goulding, uitgestel vir die mediese rekord van Mei voor die beweerde aanranding en voordat ’n dokter wat Mei na die voorval ondersoek het, kon getuig.