SMS’e van lesers

Niemand hoor of weet dan nou wat die Youth Café vir die jong mense van die dorp beteken nie behalwe net dit wat Eden FM nou uit hul kantore uitsaai. Die munisipaliteit en provinsie se geld wat hierin gestort word, is dus vrugteloos en moet ondersoek word.
*****

Is dit regtig nodig vir parkeermeters in ons dorp? Ons buurdorpe kom dan daarsonder klaar. Die klomp rondlopers wat hulself aangestel het, is regtig ’n ergernis! Die Munisipaliteit kan hulle eerder gebruik om die sypaadjies en rivier in Vrede en Bloemstraat skoon te maak. Ekstra inkomste vir ons Munisipaliteit kan eerder op ’n ander manier gekry word. MD
*****

Dankie aan almal wat rondom hul huise skoon hou en nie papiere neergooi nie. Julle wys respek vir ander en vir die omgewing.
*****

Seun en meisie saam op motorfiets na skool. Na bewering geen leerlingbe­-stuurslisensie, na bewering geen lisensie, geen valhelm en geen idee oor nagevolge… Die meisie en seun sit en lag ook nog omdat hy haar gesig moet wegsteek? Swak!
*****

Mnr Colditz, na aanleiding van wat jy in Beeld 20/2/2017 kwytraak. Jy word nie onderdruk as iemand anders dieselfde regte kry as wat jy nog altyd gehad het nie! In die informasie-era is onkunde ’n keuse. Ek kan nog my oupa en en ouma vergewe, maar jou onkunde kan ek nie vergewe nie. Sien jou Mei in die hof! Pieta van den Heever
*****

Baie dankie aan almal wat agter die skerms geld insamel, en skenkings doen, almal wat belangrike gemeenskapwerk verrig en vir ander omgee sonder die behoefte dat jul name, foto’s of goeie dade aan die wêreld verkondig hoef te word. Respek.
*****

Kan daar nie aandag geskenk word aan die informele nedersetting wat besig is om te verrys in Vredestraat, langs die Onderwyssentrum en oorkant die ingang na die parkeerarea van die Munisipaliteit, nie? Daar is elke week net meer mense wat daar woon met geen lopende water of sanitasie nie!
*****

Dankie, Reinderd Visser, vir jou insiggewende artikels oor die oorlog van 100 jaar gelede, en die ongelooflike inligting wat jy oor die jare opgespoor het oor die mense van Oudtshoorn en omgewing se betrokkenheid by die oorlog.
*****

Stem saam met ’n sms oor die hospital op Oudtshoorn se mooi tuine en netheid. Die dorp kan trots wees daarop.
******

Ek kan nie onthou dat die ingang van Oudtshoorn van Dysseldorp se kant ooit in vorige jare so vol rommel was nie. Dit was altyd netjies; selfs nadat Riemvasmaak se mense huisies daar kom opslaan het. Wat het verander? En hoe skuldig is mense wat vanaf die dorp se kant daar gaan rommel stort dalk? Nou maak inwoners self daar skoon maar die gemors is so baie dat dit maar net vuil bly.
*****

Vriende sê hulle is bang om dorp toe te gaan met groepe straatkinders wat in Hoogstraat loop, na bewering met ’n mes of messe by hulle. Ander mense kla oor dieselfde probleem, maar dit lyk nie of dit help om te kla nie want niks word gedoen nie. Tog is daar glo ander dorpe waar dit beter gaan. Daar is seker mense wat probleme wil oplos.
*****

Goeie nuus, Pravin Gordhan, laat die rykes en rokers en drinkers maar betaal vir hul luukshede…
*****