Skoenboksprojek sorg vir glimlaggies

Leerders hou hul geskenkies in die lug. Foto: Deon Meyer

TIENTALLE leerders van Laerskool Towerkop op Ladismith se gesiggies het onlangs behoorlik opgehelder toe daar geskenkies in skoenbokse aan hulle uitgedeel was.
Sanet Salmon, polisievrou wat dié inisiatief geneem het, vertel: “Ons kry jaarliks mense vanuit die ge­meenskap om geskenkies aan kinders te gee.
“Die skool gee die name en dan kies gemeenskapslede ’n naam van ’n kind wat ’n geskenkie kry. Hulle skryf self die name van die kinders op die bokse.”
Een van die leerders,Wilkinson Flink, het die goeie nuus gekry dat hy die hele jaar deur kapt Henry Edwards, waarnemende stasiekommissaris, geborg gaan word.
Jaygon Appels was op sy beurt oopmond oor sy geskenk.
“Vader Krismis kom vroeg, maar ek gaan my geskenkie eers vir tannie Pienkie wys voor ek dit oopmaak.”
Salmon het die geleentheid gebruik om die kinders te waarsku teen gevare tydens die skoolvakansie.
“Ons soek niemand op straat nie. Speel in groepies. Moenie naby vreem­de karre kom of inklim nie!
“Moenie lekkers by vreemde mense vat nie. Dit help nie ons gee geskenkies en stout mense steel julle nie.”
Opvoeders van die skool het Sal­mon bedank vir haar onbaatsugtige liefdesdiens aan die kinders van die skool. (Deur Deon Meyer)