1 000 kinders verwelkom Sinterklaas

Sinterklaas (middel), met sy helper en takbok by van die kinders wat almal koekies ontvang het. Foto Angelique Erasmus

SOWAT 1 000 kinders van Oudtshoorn is Vrydag bederf toe Sinterklaas by die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Brigton gaan kuier het.
Hy het saam met ’n helper en ’n oulike takbok sakke vol koekies vir die kinders gebring.
Drie jong vrywilligers van Duitsland wat tans ’n jaar lank op Oudtshoorn woon en by die sorgsentrum werk, was verantwoordelik vir dié fees. Jonas Bischoff was ’n indrukwekkende Sinterklaas en Luis Laufmoeller en Janneke Seeman vriendelike helpers!
Elke kind het ’n pakkie koekies en ’n worsrolletjie ontvang, saam met ’n handdruk van Sinterklaas.
Party kinders was braaf genoeg om blad te skut, terwyl ander nie vinnig genoeg verby die man in die rooi pak en baard kon glip nie.
Ander het weer hoflik gegroet, breed geglimlag en selfs drukkies uitgedeel.
Die kinders is vooraf met sang en toneelspeel en selfs die toertjies van ’n kulkunstenaar vermaak.
Die koms van Sinterklaas is jaarliks ’n hoogtepunt vir die kinders in die omgewing van die sentrum. Baie ontvang op dié dag hul enigste Kersgeskenk vir die Kerstyd. (Deur Angelique Erasmus)

Be the first to comment on "1 000 kinders verwelkom Sinterklaas"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*