Tarentaal-broers se lewensdroom word waar

VYF broers van Oudtshoorn wat al 47 jaar lank saamsing se lewenslange droom om saam ’n album op te neem het uiteindelik vlerke gekry!
En hiermee het Jacques Tarentaal (56) en sy broers Gabriël (57), Hendrik (61), Stephlin (51) en Martin (53) ook hul broer Jumat wat in 2015 oorlede is, se grootste wens nagekom.
Dié broers, wat op ’n plaas by Groenfontein naby Calitzdorp grootgeword het, het as kinders begin om saam a capella te sing. Hulle is reeds sedert hul kinderdae bekend in die gemeenskap.
“Ons hele familie is musikaal, en ons het so geleer a capella sing,” vertel Jacques.
Wyle Jumat, wat die oudste was, het die koor begin onder die naam Guiding Stars.
Barry en Sissy McGurk het hulle onlangs bygestaan om die CD in Barry se opnameateljee op Oudtshoorn koste­loos op te neem.
Dit het sowat ses ure oor twee dae geduur om die CD te voltooi.
Die amptelike bekendstelling van die CD vind Sondag (15 Desember) om 14:30 in die Pinkster Protestantse Kerk plaas. Toegang is R20. Die CD kos R80. Toegang en die CD kan saam gekoop word vir R90.
“Ons is baie dankbaar teenoor Barry en Sissy vir hul hulp met die album,” sê Jacques.
Volgens hom beskou hulle dit as ’n groot voorreg en eer om te kan optree en te sing.
“Ons wil graag ander mense inspireer dat hul so die Here kan leer ken.”
Alles wat die broers doen, doen hulle duidelik met oorgawe en passie vir die Here wat aan hul die talent gegee het om te kan sing.
“Ons volgende uitdaging nou is om ’n DVD op te neem,” sê Jacques opgewonde. (Deur Angelique Erasmus)