Oud-stadsklerk Michael Schultz hier begrawe

Michael Schultz. Foto verskaf

Deur Higgo Jacobs
DIE legendariese oud-stadsklerk van Oudtshoorn, Michael Schultz, is Son­dagoggend in sy huis in Muizenberg op die ouderdom van 88 jaar oorlede.

Schultz was vir 37 jaar lank stads­klerk by die munisipaliteit. Hy is op die jeugdige ouderdom van 29 jaar in die pos aangestel en het dit tot in 1995 beklee het.

Schultz is ’n gebore en getoë ­Oudtshoorniet en word Maandag ook hier ter ruste gelê.

Charlie Swanepoel, ’n Oudtshoor­niet wat baie jare lank as amptenaar van die munisipaliteit nou saam met Schultz gewerk het, beskryf hom as ’n kleurryke persoon met ’n ryk na­la­tenskap op Oudtshoorn.

Volgens die stadstesourier wat lank met Schultz saamgewerk het, Herman Botha, is verskeie projekte, ge­boue en sportfasiliteite op die dorp deur Schultz gedryf en tot stand gebring, onder meer die Seppie Greeff-gebou, die landdroskantoor, die De Jager

Sportsentrum, die Kango Berg­oord en die Bridgton-swembad.

Volgens Swanepoel het Schultz ook hard gewerk om die Raubenheimerdam te laat realiseer.

Hy vertel Schultz het die dorp met ’n ysterhand regeer.

“As ’n amptenaar hoor die stads­klerk wil hom spreek, dan begin hy of sy reeds op aandag staan! Hy het selfs ingenieurs, gesondheidsinspekteurs en tesouriers beveel om te maak soos hy sê,” vertel Swanepoel.

Schultz, wat in die stormagtige 1980’s stadsklerk was toe ’n noodtoestand in die land van krag was en protesoptogte en geweld ook in die strate van Oudtshoorn voorgekom het, was dikwels aan die ontvangkant van heftige kritiek. Na verneem word was daar mense wat by tye gedreig het om sy kantoor te beset en moes hy volgens inligting deur die polisie beskerm en bevry word.

Schultz sal veral onthou word vir sy betrokkenheid by die raad van trustees van LA Health, ’n mediese fonds vir munisipale amptenare. Hy was vanaf 30 Junie 1969 lid van die trusteeraad en vanaf 1994 tot 2009 voorsitter. Hy het hom in Julie vanjaar nie weer verkiesbaar gestel nie.

Schultz, wat hom tydens sy diens op Oudtshoorn, beywer het vir die be­vordering van toerisme en die Kan­go Grotte as toerismebesiens­waardigheid, was ook lid van die South African Tourism (SATOUR).

Schultz was ’n veelsydige sportman wat provinsiale kleure in rugby, krieket en muurbal verwerf het, en nasionale kleure in diepseehengel. Hy het 1956 in die finale springbokrugbyproewe gespeel.

’n Gedenkdiens vir hom word Vrydag om 14:30 in Nuweland by die Church of the Good Shepherd gehou.

Sy begrafnisdiens vind Maandag (1 Oktober) om 10:30 in die St Judes Anglikaanse Kerk in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn plaas.

Schultz word oorleef deur sy vrou, Lynn, ’n dogter, Gail en ’n seun, Kurt.