In rou oor Carty se dood

Ricardo (Carty) Fourie (43).

Ricardo (Carty) Fourie (43).

Deur Ilze-Mari Gründling
SY familie beskryf hom as ’n mense-mens, ’n liefdevolle persoon wat aan ’n ieder en elk respek getoon het – die een wat almal opgekikker en laat lag het.

Die 43-jarige Ricardo (Carty) Fourie se familie is stukkend oor sy skielike heengaan nadat ’n bakkie op Vrydagaand 5 Januarie na bewering met opset oor hom in Swawellaan, Bridgton, gery het.

“Twee van ons kinders het gesien hoe dit gebeur. Hulle is maar net vier en sewe jaar oud. Dit was verskriklik,” sê Jetaime (26), eggenoot van Fourie.

Die paartjie was vanjaar sewe jaar saam.
“Ek weet nie hoe ek dit gaan verwerk nie. Hy was my groot liefde. Ons het baklei vir mekaar,” het Jetaime huilend gesê.
Sy vertel die voorval het omstreeks 21:05 plaasgevind.

“Ons het buite gesit omdat dit warm was. Die kinders van die buurt het in die straat gespeel, die grootmense het domino’s gespeel – dit was gesellig.

“Carty het sy hemp uitgetrek omdat hy gesweet het en het in die pad gesit omdat dit so warm was. Toe ek in die huis ingaan om ’n skoon hemp vir hom te kry, het ek die slag gehoor.”

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Fourie ernstig beseer en na die Oudtshoorn Hospitaal geneem.

Hy is daarna oorgeplaas na die George Hospitaal en toe na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad, waar hy Dinsdagaand 9 Januarie aan sy beserings beswyk het.

Volgens Fourie se sister, Rauweida de Villiers, het die bakkie oor hom gery, toe agteruit gery en weer vorentoe gery.
“Hy het baie seer gekry. Sy rugraat was soos ’n koeksister gedraai en hy was verlam vanaf sy nek ondertoe. Sy hele liggaam is vergruis,” sê sy.

De Villiers sê haar broer het vier nekwerkwels en sy arm gebreek en ook ’n kopbesering opgedoen.

“Hy was sedert die Dinsdag in ’n koma. Ons het Kaapstad toe gejaag om by hom uit te kom, maar sy hart het gaan staan voordat ons daar kon kom.

“Ons het by sy bed gestaan en gepraat met hom, maar hy was reeds oorlede.”

Volgens sy ma, Cathleen de Villiers, was sy kinders sy hele lewe.

“Hy het die wêreld vol geloop met hulle en was wonderlik met al die kinders in die buurt. Hy was baie vriendelik met almal – jonk en oud.”

Sy stiefpa, Sam de Villiers, beskryf hom as die sonlig deur die mis.

“Hy het altyd mense laat lag en het orals waar hy gekom het, vriende gemaak. Selfs mense van hier tot Namibië en verder het vir ons boodskappe gestuur.”

Een van Fourie se goeie vriende, Kevin Taye van Etiopië, sukkel om sy dood verwerk.

“Hy was soos ’n broer vir my, my beste vriend. Dit is nie reg dat hy so moes sterf nie.”
’n 37-jarige man is die Sondag na die voorval (op 7 Januarie) in hegtenis geneem en het Donderdag (11 Januarie) in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklag van moord.

John Donson verskyn weer môre (Vrydag, 19 Januarie) in die Oudts­hoorn Landdroshof.

Fourie laat sy vrou, Jetaime en ses kinders agter.