Raak betrokke by Shavathon!

INWONERS van Oudtshoorn kan by drie geleenthede betrokke raak by vanjaar se Kansa Shavathon en deur hul hare te kleur, te sny of te skeer ’n bydrae lewer om fondse in te samel vir Kansa – die Kankervereniging van SA.

Onthou dié datums: Vrydag, 24 Fe­bru­arie voor die Queen’s Mall, Saterdag, 25 Februarie, voor die Checkers- Sentrum en Vrydag, 3 Maart, by die Klein Karoo Groep.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloed­diens snoer vanjaar kragte met Kansa saam en sal op 24 Februarie ook by die Queen’s Mall op Oudtshoorn wees sodat mense bloed kan skenk. Die Shavathon duur van 08:00 tot 15:00.

Die Shavathon by Checkers die volgende dag duur ook van 08:00 tot 15:00.
Vanjaar vier die Shavathon sy 14de verjaarsdag – spesifiek by winkelsentrums reg­oor die land en by werkplekke.

Met dié prettige geleent­heid wil ook ’n bewustheid van kanker gekweek word. Vir ’n donasie van R50 (R25 vir kinders on­der 12) kan mense hul hare skeer of kleur. Ponie­sterte van 25 cm of langer kan ook aan Kansa geskenk word. Hare wat ge­skenk word en voldoen aan die nodige vereistes, sal gebruik word om pruike vir kankerpa- siënte te maak. Dié pruike word gratis aan die pasiënte verskaf.
Werkplekke, korporatiewe instel­lings en diensorganisasies wat as ’n Shavathon-gasheer wil registreer, kan nog tot Vrydag (17 Februarie) aanlyn registreer en Shavathon se produkte bestel by Kansa se eShop (www. shavathon.org.za/shop/).

Handleidings met inligting oor hoe om ’n shavathon suksesvol aan te bied, kan afgelaai word by www.shavathon. org.za/how-to-organise-your-own- shavathon-event/.