Bo: Rosie Schoeman steek saam met dr Ivan Meyer ’n kers aan vir die toekoms. Foto onder: Steffie le Roux, die aand se gaskunstenaar. Foto’s: Schalk le Roux


Van links is burgemeester, Colan Sylvester, Diane de Jager (Oudtshoorn ACVV-takvoorsitter), Ria Abel (nasionale voorsitter ACVV Hoofbestuur) en dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van finansies.

Rosie Schoeman (oud-voorsitter Oudtshoorn ACVV), Rina de Swart (hoofbestuurslid van George) , Isabel Theron, Nicolette van der Walt (nasionale bestuurder kinderbeskerming) en dr Shanie Boshoff (uitvoerende hoof van die ACVV).
1ste eeu met trots en vreugde gevier
DIE Oudtshoorn ACVV het sy 100ste
verjaardag verlede Vrydag, 1 September, met vreugde gevier – tydens die dag met verskeie aktiwiteite en die aand met ’n verjaarsdagdinee in die Oudtshoorn Burgersentrum.
Die ACVV het die stem geword van diegene wat nie vir hulleself kan praat nie, het die burgemeester, Colan Sylvester, by ’n verjaarsdagdinee die aand gesê. Hy het vertel dat sy ma, Mathilda Sylvester, saam met Susanna Opperman die eerste twee bruin maatskaplike werkers was op die dorp en dat hulle die dorp se strate plat geloop het. Hy het die ACVV bedank vir hul werk en sy besonderse waardering aan hul oorgedra.
Rosie Schoeman, ’n oud-voorsitter, het vertel hoe sy as jong vrou in die 1960’s genader is om aan te sluit by die ACVV wat in daardie stadium net ses lede gehad het. “Dit was vir ons as vrywilligers ’n uiters verrykende ervaring om deel van die ACVV op Oudtshoorn te kon wees.”
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van finansies, het Ria Abel, nasionale voorsitter van die ACVV Hoofbestuur, en Schoeman gevra om simboliese kerse aan te steek. “Ons het so pas die lig aangesteek vir die volgende 100 jaar vir die ACVV op Oudtshoorn,” het hy gesê. “Eer jou verlede, maar leef in jou toekoms.”
• DAAR is nie veel bekend oor die eerste jare van die ACVV op Oudtshoorn nie, omdat al die dokumentasie verlore geraak te midde van die Eerste Wêreldoorlog wat toe gewoed het.
Nogtans het dié organisasie, wat in 1917 op die dorp gestig is, ’n trotse rekord en lewer dit ’n onskatbare bydrae op Oudtshoorn, vertel Diane de Jager, die huidige voorsitter van die Oudtshoorn ACVV Takbestuur. Sy het in 1959 by die ACVV betrokke geraak.
“Dit verg baie beplanning vir ’n geregistreerde welsynorganisasie soos die ACVV om te oorleef en ’n diens te kan lewer,” sê De Jager.
Daarom is daar so ’n groot behoefte aan lede en vrywilligers. “Ons soek mense wat belang stel om ’n diens te lewer – om byvoorbeeld armes te besoek, klere te skenk en donasies te gee. Die behoeftes is eindeloos.
“Dit is fantasties om ’n vrywilliger te wees want jy ontvang soveel terugvoer van dankbaarheid en erkenning. Dit maak dat jy die kritiek wat daar ook kom, kan agterlaat.”
Onder die ACVV val onder meer:
• Drie ouetehuise – Gotlandhuis, Helen Bellinghanhof en Tuishuis, met die laaste twee wat gebou is met fondse van die Departement Gemeenskapsbehuising. Gotlandhuis is privaat aangekoop met die hulp van ’n erflating.
• ’n Dienssentrum vir bejaardes met 360 lede, wat kliniekdienste vir lede bied en lede ook byvoorbeeld op uitstappies neem.
• Maatskaplike dienste met drie maatskaplike werkers, ’n hulp-maatskaplike werker en twee gemeenskapwerkers wat in die hele Groter Oudtshoorn en omliggende landelike gebiede werk. Die afdeling hanteer ook aannemings, Daar is ’n behoefte vir pleegouers vir gevalle van kinderverwaarlosing.
• Die Emmanuel Verpleegskool wat hopelik in 2018 opleiding sal hervat. Die nasionale regering het wetgewing rondom opleiding verander en dit het opleiding landwyd by instellings onderbreek.
Elke afdeling van die ACVV het ’n eie beheerraad met ’n voorsitter wat ook dan op die takbestuur dien. Geeneen van hulle ontvang enige vergoeding nie en gee hul tyd vrywillig vir die gemeenskap.
VIR NAVRAE KONTAK Riana Booysen
(044 272 7760).
Dienssentrum: Elsabe Kelder (044 272 2211). Maatskaplike dienste: Mariëtte Langley
(044 272 7603).
Tuishuis: Ansie Botes (044 272 0164).
Gotlandhuis:
Hettie Coleman
(044 272 0173).
Helen Bellinghanhof : Francois Stassen
(044 279 2646)