MEER as twintig oud-leerders van die Hoër Meisieskool op Oudtshoorn, het Vrydag vir ’n gesellige oggend bymekaargekom by Enchanted Koffie Winkel op Oudtshoorn.
Die saamkuier is ’n jaarlikse instelling waar die “Old Girls” heerlik saamkuier.
Die meisieskool was van 1950 tot 1962 op Oudtshoorn voordat dit met die seunskool geamalgameer het.
Die pragtige ou sandsteen gebou is volgens Hazel Jonker, een van die organiseerders van die oggend, in die vroeë 70’s gesloop.
“Die gebou het gestaan waar die Oudtshoorn Polisie se gebou vandag staan, met die koshuis oorkant die pad, waar Eljada-Kairos vandag is,” vertel sy.
Marie Olivier, wat saam met Jonker die oggend gereël het, sê die vroue het die gesellige oggend baie geniet.
Honorua (Kuyler) Cronje (86), wat ook die geselligheid bygewoon het, het 70 jaar gelede matriek geskryf.
Sy woon steeds op Oudtshoorn in die Oudtshoorn Aftreeoord. (Deur Angelique Erasmus)