DAAR was die week groot opgewondenheid by die Nomonde Crèche in Toekomsrus (Oudtshoorn) toe Roydin Engelbrecht, ’n plaaslike vrywilliger met ’n besondere liefde vir die natuur, bome na die skooltjie gebring het om Dinsdag (27 Oktober) daar te plant.
Die bome is geskenk as deel van die Oudtshoorn Besigheidskamer se Bome van Hoop-projek, wat verlede jaar van stapel gestuur is.
Engelbrecht het by Trapsuutjies, ’n “groen besigheid” in die dorp, aangeklop om hulp te vra vir die kleuterskool se vaal en droë tuintjie.
“Ek het met die skoolhoof, Lizel Mapoe, gesels om te hoor of ek nie ’n bydrae kan lewer om die skooltjie mooier te maak nie, en ons het saam besluit dat bome hier ’n groot verskil kan maak.
“Susan Botha van Trapsuutjies het my vertel van die Bome van Hoop-projek, en ons kon vyf bome so as geskenk ontvang, wat ons vanoggend geplant het.”
Die bome sal voortaan deel uitmaak daarvan om die kleuterskool se 60 leerders tussen drie en vyf jaar oud, meer bewus te maak van die natuur.
Die skool is sedert 1994 in bedryf.
Kinders wat Dinsdag bome help plant het, kon reeds heelwat vertel van die voordele wat bome inhou.
“Dit maak die plek mooi,” “Dit is ’n tuiste vir voëltjies,” “Dit lok bye en skoenlappers,” het van hulle vertel.
Die bome sal versorg word deur Mapoe en Engelbrecht, met die hulp van die kinders.
“Ek het in my lewe geleenthede gekry as gevolg van mense wat vir my ingetree het. As niemand inspring by die sukkelende crèche nie, sal dit tot niet gaan – ek wou graag iets doen om die kinders hier se lewens beter te maak,” vertel Engelbrecht.