Kompos én erdwurms

Booi Nace deel sy kennis oor erdwurms. Foto: Stefan Skapie Goosen

“ONS moet besef dat ons ’n kopskuif moet maak wanneer dit kom by tuinmaak en voedselvoorsie­ning, en hiervoor kan kompos en erdwurms help op klein en op groot skaal.”

So sê die Oudtshoorniet Booi Nace. Nace het op Saterdag 17 Oktober die waarde daarvan om jou eie kompos te maak en van erdwurms in jou tuin aan ’n groep ywerige tuiniers by die Cape Karoo Ostrich Emporium op Oudtshoorn verduidelik.

“Of jy nou groente in jou agterplaas wil kweek of op jou plaas, moet ons ’n organiese manier vind om na ons groente om te sien. Kompos en erdwurms kan gekombineer word om minerale by die grond te voeg, die grond se voedingswaarde te verhoog, en ook om water beter te benut. Die erdwurms help veral baie om die voedingswaarde van jou kompos te verhoog met hul castings (afval), om spasie te maak vir plante se wortels, en om die water te lei tot waar dit moet wees met die tonnels wat hulle maak,” het hy met passie vertel.

Volgens Booi kan mens die erdwurms ook op grootskaal kweek mits jy genoeg houers het.

“Jy kan houers van 10 liter tot 1 000 liter gebruik, of selfs vir jou ’n groot skuur kry met seil om dit mee uit te voer.

“Op beide maniere plaas jy dan mis, blare, karton, papier, groente- en vrugteskille en eierdoppe bymekaar, met vog en so ’n paar erdwurms, en na omtrent drie maande sal jy genoegsame kompos hê om jou tuin of landerye, te voed. Dit sal help om die grond se pH-vlakke te lig en dit gesond te kry,” sê hy.

Erdwurms is volgens Booi belangrik omdat hulle deel uitmaak van die ekosisteem, “amper soos die dokters of professors van die ondergrond!” sê hy. Hy vertel dat moderne boerderymetodes en chemikalieë wat gebruik word, die grond se voe­dingswaarde oor dekades baie verlaag en verswak het.

Booi, wat sê hy is een van 15 000 erdwurmboere in Suid-Afrika, sê erdwurmtee – wat bestaan uit wat die erdwurms inneem en dan uitskei – is van on­skatbare waarde vir tuine. “Jy kan dit as sproei­middel gebruik, of bloot net jou plante daarmee natmaak, en help dat jou plante onmiddelik beter funksioneer.”

Die erdwurmtee, en dus jou groentetuin, bevat dan ook geen chemiese gifstowwe nie. “Dit laat alles pragtig groei,” voeg hy by. (Deur Stefan Skapie Goosen)