Moedergemeente groet ds Gerrit

Ds Gerrit van Schalkwyk en sy vrou Ilsa. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
NA 39 jaar in die bediening, het ds Gerrit van Schalkwyk van die NG Moedergemeente op Oudts­hoorn Sondag finaal sy toga opgehang.

“Dit was ’n emosionele Sondag vir my gewees. My ma het 39 jaar gelede my toga vir die eerste keer vir my omgehang voor ek my eerste diens gedoen het” vertel hy.

In die 39 jaar, waarvan 31 en ’n half op Oudts­hoorn was, het Van Schalkwyk 713 preke gelewer, 157 paartjies in die eg verbind, 161 begrafnisse gehou en sowat 300 babas gedoop.

“Die paadjie na die preekstoel was Sondag vir my baie lank gewees, en dit was ongelooflik emosioneel toe ek my toga die laaste keer aangetrek het. Alhoewel dit vir my sleg is om weg te gaan, is dit soos die Bybel sê tyd om te gaan. Ek sien uit na nuwe uitdagings.”

En dan skerts hy: “Maar nou kan ek ook Sater-dagaand braai, of vir ’n naweek weggaan!”

“En ek wag nou vir huisbesoek by my!”

Hy sê van die hoogtepunte in sy meer as 30 jaar in die Moedergemeente was die restourasie van die ou Drilsaal sowat 24 jaar gelede. Nog hoogtepunte is die moderne tegnologie wat in die kerk gebruik word, en die pastorie wat gerestoureer en deels as gastehuis bedryf is vir ’n ekstra inkomste vir die kerk en leraar wat in die ander deel woon.

Dié historiese pastorie gaan nou die eerste keer ’n ander rol vervul omdat ’n bekende rekenmees­tersfirma dit voortaan gaan huur.

Van Schalkwyk vertel dat die mense van Oudts­hoorn, veral die lidmate van die Moedergemeente, diep in sy hart gekruip het. Hul het ook hul drie kinders in Oudtshoorn grootgemaak.

Hy sê laagtepunte vir hom is die droogte wat die dorp se ekonomie so knel en ook om die hartseer saam met mense te beleef.

Op ’n vraag oor waarna hy die meeste uitsien na sy aftrede, sê hy dit is om te gaan toer en met sy rugsak die land en buiteland in te vaar.

Hy is ook ’n kranige fietsryer, tuinmaker en binnehuisversierder, maar skerts dat met sy 10 duime liefs nie bouprojekte aanpak nie.

Van Schalkwyk en sy vrou Ilsa trek middel Mei by die Riempie Village in. “Hoewel ons aanvanklik ’n huisie in die Strand vir dié doel gekry het, is die Karoo in ons bloed, en is ons Karoo-kinders wat eerder hier aanbly.”

Hy vertel dat hy na skool sy diensplig in die Lugmag gedoen het en toe besef het dat om te preek sy roeping is. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer.

Hy was oor die jare op Oudtshoorn betrokke by die Eljada Instituut, en vir meer as 30 jaar by die Sinode se diens van barmhartigheid (Badisa).

En snaakse oomblik­ke? Een van die snaak­stes, sê hy, was tydens ’n begrafnis toe twee families die liggaam van hul geliefde probeer skaak het en daar tydens verrigtinge uitgewys is wie watter blomme ens gekoop het!