By ’n geselligheid om Melissa Strydom van Badisa Prins Albert vir dienslewering te vereer, was die personeel en beheerliggaam. Voor van links is Matulda Mooneys, Strydom en Jakoba Visagie, en agter van links Willem Hinkman, Melanie Hendricks, Adele Kruger, Jan Bothma, Johnny Brits, Severiano Simpson, Fatima Lekay en Tiffany Manuel. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
BADISA Prins Albert het die afgelope week een van sy topwerkers vereer vir haar 10 jaar ononderbroke en pligsgetroue diens aan die gemeenskap.
Melissa Strydom, gemeenskapsontwikkelingswerker wat veral op tienerkwessies fokus, is geprys vir haar menslikheid, omgee, warmte, deursettingsvermoë, onbaatsugtigheid en onvoorwaardelike dienslewering aan ’n gemeenskap met talle maatskaplike kwessies.
Jakoba Visagie, voorsitter van die Badisa-beheerliggaam, het gesê Prins Albert is bevoorreg om ’n werknemer van Strydom se kaliber in sy midde te hê.
“Hierdie geleentheid is gereël uit erkenning van en dankbaarheid vir tien jaar by ons. Ons het nie silwer of goud om jou te gee nie, net ons waardering. Dit was ook goed om te sien hoe jy oor die tien jaar by ons gegroei het. Ons besef maatskaplike werk is ’n liefdeswerk, maar jou entoesiasme en passie vir jou taak staan uit.”
Volgens Strydom het haar dekade op dié Karoo-dorpie “soms huiltye en soms wilde tye gebring, maar ook baie gelukkige tye. Ek het talle personeelwisselings gesien, maar ek was altyd die een wat gebly het.
Ek is die span saam met wie ek werk baie verskuldig. In dié tyd het ek baie by Badisa én in Prins Albert geleer.”
• Badisa is ’n barmhartigheidsdiensorganisasie van die NG Kerk (Wes-Kaap) en die VGK (Kaap) wat met verskeie rolspelers en vennote saamwerk rondom maatskaplike kwessies in gemeenskappe. Badisa Prins Albert: Kerkstraat 111; tel 023 541 1388.