Ongeveer 300 geskenkpakke met voedsel en toiletware is Dinsdag, 4 Maart, aan Eljada-Kairos skool geskenk.
Die skenking was deel van Meals on Wheels se Extreme Cycle4Hunger-projek wat jaarliks plaasvind.
’n Groep van 16 fietsryers het op 24 Februarie uit Johannesburg vertrek, vergesel deur ’n konvooi bystandsvoertuie en vragmotors, op ’n rit van bykans twee weke wat vandag in Kaapstad eindig.
Op elke dorp waar die groep oornag, word ’n skool met behoeftige leerders gekies om die geskenkpakke te ontvang. Vanjaar was dit Eljada-Kairos se beurt.
Die fietsryers het Dinsdagoggend uit Beaufort-Wes vertrek en nadat hulle in Oudtshoorn oornag het, het hulle Woensdagoggend na Barrydale vertrek.
Die skoolhoof, Hennie Baartman, het aan die groep verduidelik dat Eljada-Kairos skool ’n junior- en senior kampus het waar 275 leerders met gestremdhede en ander spesiale behoeftes gehuisves word. (HANNES VISSER)
Leerders ontvang geskenkpakke van fietsryers
Fietsryers en lede van die Extreme Cycle4Hunger-groep by leerders van Eljada-Kairos. Die skoolhoof, Hennie Baartman staan heel regs. Foto: Hannes Visser