Sy sal nooit nee sê vir enige kat nie, sê Lee-Ann van Sittert van die Cat Hotel en Oudtshoorn Volunteers vir Diere.
Foto: Ilze-Mari Gründling
Deur Ilze-Mari Gründling
SY sal nooit nee sê vir enige kat nie – groot of klein, blind of doof, beseer, honger of gebreklik nie.
So sê Lee-Ann van Sittert, een van die stigters van Oudtshoorn Volunteers vir Diere en die Cat Hotel op Oudtshoorn.
Van Sittert en ’n vriendin, Zonel O’Kennedy, het Oudtshoorn Volunteers vir Diere sewe waar terug en die Cat Hotel twee jaar gelede begin uit ’n passie en liefde vir diere en met die doel om diere te help; waar hulle ook al vandaan kom.
Van Sittert vertel dat sy van jongs af diere red.
“Ek het van jongs af diere vanuit haglike omstandighede huis toe geneem. En sowat sewe jaar gelede het ek en Zonel besluit om meer diere te help en dit op die regte manier te doen.
“Ons (die vrywilligersgroep) is deur die landdros geregistreer om diere te red en in te neem, te steriliseer en om huise vir hulle te kry,” sê sy.
Die Cat Hotel laat steriliseer elke Woensdag katte, terwyl die vrywilligers op gereelde basis in die gemeenskap gaan werk – ook in De Rust, op omliggende plase, in Roodewal, Spieskamp en ander gebiede om Oudtshoorn.
“Dit gaan nie oor wie of wat jy is nie, ons is hier om te help. As daar nood is, sal ons help,” sê sy. “Ons is lief vir beide mense en diere.”
Hoewel die Cat Hotel se hooffokus katte is, help die vrywilligersgroep ook ander diere. “Ons laat ook nie diere sommer uitsit nie, ons probeer eers ons bes om die diere te help.”
Van Sittert vertel dat katte gereeld na die Cat Hotel gebring word, en dat daar verlede jaar in ’n stadium 54 katte was. “Ons kry baie hulp van ondersteuners, maar ons betaal ook vir benodigdhede uit ons eie sakke. Op die oomblik sukkel ons om by te bly met katsand – dit is duur, maar noodsaaklik.”
Sy sê die proses om diere aan te neem, is baie eenvoudig.
“Ons vra nie geld nie. Komberse, katsand of kos is genoeg, maar ’n vereiste is dat mense ’n kontrak teken wat sê dat die kat gesteriliseer sal word. Dit is waar die meeste wilde katte vandaan kom – omdat diere nie gesteriliseer word nie.”
Kontak Van Sittert gerus met enige navrae of skenkings van katsand, kos (nat en droog), komberse of speelgoed by 083 334 0172.
Skenkings kan ook by Kango Dierekliniek op Oudtshoorn afgegee word, gemerk “Cat Hotel” of “Lee-Ann van Sittert”.