Sers Zollie Heska, ao Christiaan May, konst Widan Lewis, sers Nikky Pheiffer, kapt Henry Edwardes, sers Petula Links, konst Jerome Tobias, ao Isaac Kamfer, sers Willem Esquire en sers Henry Moses. Afwesig: Konst Bennet de Wee. Foto verskaf
DIE Ladismith Polisie het geskitter by die jaarlikse prestasietoekenningsaand van die Wes-Kaapse SAPD op Saterdag 27 Oktober in Kaapstad deur eerste en tweede te kom in die afdeling vir die Sigbare Polisieringsgroep van die Jaar.
Ladismith se misdaadvoorkomingseenheid onder leiding van kapt Henry Edwardes het met die eerste plek weggeloop. Hulle het sowat 1 000 arrestasies gemaak, onder meer die meeste dwelmarrestasies in die Eden Kluster! Hulle het ook ’n groot rol gespeel in die aankeer van gewapende rowers wat in Junie ’n winkel in Van Wyksdorp beroof het. Die vuurwapens wat in dié rooftog gebruik is, is later met rooftogte in Kaapstad verbind.
Die Ladismith C-skof onder leiding van sers Glanville Barry was tweede. Hulle het verskeie dwelmarrestasies gemaak en vuurwapens teruggevind. Hul grootste vangs was in Maart toe beslag gelê is op 1,4 ton perlemoen ter waarde van R6,7miljoen.