Kom stap saam met die “Mal stapper”

Nicolaas Vlok, wat elke dag iewers heen stap en na homself as die Mal stapper verwys, daag mense van alle ouderdomme, maar veral bejaardes uit om op 24 Mei saam met hom te stap ten bate van Arbeidsbediening.

Die stappery begin om 10:00 op die tartanbaan by die De Jagersportkompleks en duur tot 11:00 op Saterdag 24 Mei.

Stappers kan vanaf 09:00 by die baan registreer teen ʼn donasie van R100 wat vir Arbeidsbediening aangewend word.

Letterlik enigiemand van enige ouderdom, selfs mense in rolstoele en met looprame of krukke kan kom deelneem, sê Nicolaas.

“Kom geniet die uur saam met ons, dan droom ons oor vervloë jare en eet lekker pannekoek wat te koop sal wees,” nooi hy.

Daar sal ʼn waterpunt, noodhulp en musiek wees sowel as ʼn gelukstrekking van inskrywings.
Vir navrae kontak Nicolaas by 082 976 8638. (HANNES VISSER)