
Llewayden Jacobs (18) voor sy vertrek verlede week na Duitsland saam met die brigadeleier, kapt David Julius. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
Llewayden Jacobs (18), ‘n voorslag-trompetblaser van die Oudtshoorn Lutherse Kerk Jeugbrigade asook die die kerk se senior blaasorkes, is tans op besoek aan Duitsland waar hy verskeie gemeentes sal besoek en die jaarlikse Kirchentag, ‘n baie groot kerkbyeenkoms, sal bywoon.
Die besoek is volgens Pat Sambo, sinodale verteenwoordigder van die Oudtshoorn Lutherse Kerk, ook deel van die kerk se internasionale vieringe van 500 jaar van Hervorming. “Llewayden sal die Oudtshoorn Parogie, die Moria Kring, die Kaap Oranje Bisdom en die Lutherse Kerk in Suid Afrika verteenwoordig,” sê Sambo.
Hy is een van vier jong Suid Afrikaanser musikante wat die eer te beurt geval het, en sal onder meer ook Berlyn, Greifswald, Löcknitz and Koserow en die Baltiese See besoek. Die Kirchentag sal in Greifswald plaasvind.
Volgens Sambo is die tema van vanjaar se byeenkoms “Now is the time of grace – in which society do we want to live.”
Lluwayden sal by die Kirchentag aan ‘n musiekwerkswinkel deelneem en ook ‘n getuienis lewer oor wat die tema beteken vir ‘n jeugdige in Suid Afrika. Hy sal saam met jongmense van Tanzanië, Poland, Swede en Noord-Amerika optree en ook ‘n musiekopvoering bywoon onder die tema, “Martin Luther in Word and Music”, voordat hy na Suid-Afrika terugkeer.
Volgens kapt David Jullius, leier van die Oudtshoorn Lutherse Kerk Jeugbrigade, is hy baie trots op die jong trompetblaser wat hom aanvanklik self geleer het voordat hy later onderrig van Klaus Claassen ontvang het. “Llewayden is ‘n toegewyde lid van die brigade en ‘n voorbeeld vir almal,” sê Julius.
Hy is ‘n Graad 12-leerder aan die Hoërskool Môrester en het voor sy vertrek verlede week gesê hy kan nie glo wat hom te beurt geval het nie. Hy was in Graad 2 toe hy by die brigade aangesluit het en het eers die tromme bespeel voordat hy na die trompet oorgeslaan het. Hy kan ook die tromboon (skuiftrompet) en tuba bespeel.