Jeugforum het reeds ’n bedrywige Januarie agter die rug

Phillip Seroux oorhandig een van die skooluitrustings aan Charmaine Links, een van die opvoeders by die Rodewal UCC Primêre Skool op Schoemanshoek. (Foto verskaf)

DIE Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF), wat vanjaar sy twaalfde be­staansjaar vier, het ’n bedrywige eerste maand van 2022 agter die rug, sê Phillip Seroux, die forum se projekbestuurder.

Volgens hom het die forum afgeskop met ’n skoolvakansieprogram wat op 3 Januarie begin en tot 14 Januarie geduur het.

Seroux sê die program, wat weens die Covid-pandemie nie verlede jaar aangebied kon word nie, was vanjaar veel groter as voorheen danksy die Wes-Kaapse Departement Kultuursake en Sport se finansiële bydrae.

Ondersteuning is ook gekry van Real Life Commit, die SAPD, ACVV, die CP Nel Museum, die departemente maatskaplike ontwikkeling en korrektiewe dienste, Eden FM, Andy’s Fishe­ries en Famsa.

“Die hoogtepunt van die vakansie­program was die jeugkamp van drie dae vir plaaskinders wat vanjaar by die Kango Bergoord aangebied is.

“Hier is die kinders voorberei op wat hulle op hoërskool kan verwag.

“Dis ’n nuwe wêreld vir plaaskinders om na hoërskole op Oudtshoorn te gaan en vir die eerste keer in koshuise tuis te moet gaan.

“Dit lei in baie gevalle tot tienerswangerskappe, skoolverlating, kinders wat geboelie word en groepsdruk,” sê Seroux.

Volgens hom sal die forum ook gereeld die koshuise besoek om met die kinders te skakel.

Die vakansieprogram is afgesluit met o.13 netbal- en sokkertoernooie.

Die forum was daarna ook bedrywig met sy eerste Terug Skool Toe-projek in samewerking met Jethro Grootboom van GCIS, waartydens skoolskoene, skoolklere asook pap- en sopbestanddele aan verskeie skole op plase in die Oudtshoorn-distrik oorhandig is.

“Ons het sowat 200 leerders bereik by skole op Matjiesrivier, Rodewal, Schoemanshoek, Lategansvlei, Rooiheuwel en Zeekoegat,” sê Seroux.

Volgens Seroux het die projek egter nie geeïndig nie, omdat nog skole in die distrik op die program is. “Ons het egter nog baie hulp nodig en doen ’n beroep op sakelui en individue wat daartoe in staat is om ons by te staan.”

Belangstellendes kan Seroux by 079 987 9486 kontak. (Deur Garnett Wicomb)