Inwoners ruk op oor huise, werksgeleenthede

Inwoners van die GG-kamp. Foto: Garnett Wicomb

Tommy Matthee, direkteur gemeenskapsdienste, praat met die inwoners van die GG-kamp.

Deur Garnett Wicomb
HULLE verdien beter behuising, beter sanitêre geriewe en ’n skoner omgewing.
So sê inwoners van die GG-kamp, ’n informele woonbuurt in Oudtshoorn, wat Vrydagoggend ’n vreedsame optog na die munisipale depot gehou en ’n memorandum aan munisipale amptenare oorhandig het.

Die groep van sowat 60 mense het aanvanklik geweier dat munisipale werkers die depot verlaat, maar hulle wel later laat uitkom.

Mbulelo Xaba, woordvoerder van die ongelukkige inwoners, het hul tevredenheid met die ontmoeting met drie se­nior amptenare uitgespreek.

Hulle is deur die munisipale bestuurder, Allen Paulse, die direkteur gemeenskapsdienste, Tommy Matthee, en die waarnemende direkteur menslike nedersettings, Shehaam Simms, toegespreek.

Die inwoners vra in hul memorandum beter behuising, werksgeleenthede vir veral jongmense, beter toiletgeriewe en dat die muisipaliteit die gebied meer gereeld skoonmaak.

Volgens Simms is sy in gesprek met die konstruksiemaatskappy Asla oor die beskikbaarstelling van ’n moontlike 400 wooneenhede vir inwoners van die drie informele nedersettings, die GG-kamp, Black Joint en Die Kanaal.

Volgens Matthee is die munispaliteit ook besig met ’n projek om tot Junie 2020 werksgeleenthede aan sowat 120 inwo­ners te bied vir die skoonmaak van die woonbuurte.

“Ons sit egter met die probleem dat as ons vandag skoonmaak, die mense môre weer hul rommel op die skoon gedeeltes stort. Ons sal moet hande vat om die probleem die hoof te bied,” het Matthee gesê.
Mlandeli Nyuka, organiseerder van die optog, het ook sy tevredenheid ten opsigte van die aangeleentheid uitgespreek.

Die munisipale bestuurder het almal die versekering gegee dat die munisipaliteit aandag sal gee aan die inwoners se griewe.

Hy het hulle ook genooi na ’n vergadering wat op Dinsdag, 5 November, in die Thusong Sentrum sal plaasvind.

Matthee het daarop die groep bedank vir die ordelike wyse waarop hulle opgetree het.