Inwoners kan self so begin herwin

Deur Ilze-Mari Gründling
ELKE metrieke ton herwinde papier spaar 17 bome, gebruik 40 persent minder energie, en 50 persent minder water as wat gebruik sal word om produkte van nuuts af te maak. (Bron: Plastics SA 2016).
Hoewel die Oudtshoorn Munisipaliteitnie ’n beleid van herwinning het nie, kan individue self produkte soos glas, plastiekbottels, papier, koerante, karton en blik­kies by die herwinningsaanleg op die dorp, Retain Recycle Re-use, inhandig. Retain Recycle Re-use laai ook die produkte by huise op in Wesbank, die sakesentrum en dele van Oudtshoorn-Noord. Dié inisiatief is deur kerke in die dorp geloods, sê André Janse van Rensburg, eienaar van die herwinningsaanleg.

Volgens hom is daar baie voordele in herwinning. “Hoe meer mense herwin, hoe minder geld word gespandeer om pro­­dukte te vervaardig en verkoop. Men­se wat hul afval na ons toe bring, kan ook iets daaruit kry. Ons weeg die rommel en betaal dan per kilogram,” sê Janse van Rensburg.

Volgens Janse van Rensburg word 30 ton plastiekbottels, 12 ton papier en 17 ton koerante op ’n maandelikse basis in Oudtshoorn herwin, en die maatskappy wil uitbrei.

“Ons wil die munisipaliteit versoek om blousakke, soos op George, saam met die swartsakke aan inwoners te verskaf. Dit sal dit makliker vir almal maak om herwinbare produkte te skei van dié wat na die stortingsterrein gaan. Hoe meer mense herwin, hoe beter.”

Inwoners van Wesbank en Oudtshoorn-Noord kan hul adresse aan Retain Recycle Re-use verskaf (tel 044 279 2181).