Verpleegpersoneel van die Oudtshoorn hospitaal lê Vrydag weer die diensgelofte vir verpleegsters af.
Deur Garnett Wicomb
“Verpleegsters en verpleërs moenie van hul eie gesondheid vergeet nie en ook na hul stresvlakke kyk. Pasiënte het verpleegpersoneel nodig wat sonder stres werk.”
So het ds André Boezak van die Bridgton Verenigende Gereformeer-de Kerk, Vrydagmiddag tydens die viering van Internasionale Verpleegstersdag aan verpleegpersoneel van die Oudtshoorn Hospitaal gesê.
Die tema van die dag was “Gesondheid is ’n menslike reg,” en die personeel het weer hul diens-gelofte afgelê.
“Die mense wat na die siekes omsien, kry nie aldag die erkenning wat hulle verdien nie. Hulle werk daagliks, net soos Jesus, die grootste versorger en verpleër ooit, met alle soorte mense.”
Die geleentheid is met skriflesing en gebed deur ds Johannes Muggels van die Oudtshoorn United Congregational Kerk geopen terwyl Eurica Johannes ’n sangitem gelewer het.
Twee beamptes van die gesondheidsvakbond, Hospersa, Gerald Lottriet en Frank Travers, het ook die geleentheid bygewoon.
Die verpleegpersoneel het weer, met brandende kerse, die diensgelofte vir verpleegsters afgelê wat hulle verbind tot diens aan die mensdom en onderneem om hul beroep met nougesethied en waardigheid te beoefen.
Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks rondom 12 Mei, die geboortedatum van Florence Nightingale, gevier.