NG Kerk Oudtshoorn-Wes maak op Sondag 2 Augustus die kerk se deure vir die gemeenskap oop vir ’n lofprysingsaand, waar mense van alle ouderdomme uitgenooi word om saam die Here deur sang en aanbidding te prys.
Die geleentheid begin om 17:00 by die kerk op die hoek van Tuin- en Buitekantstraat. Toegang is gratis en almal is welkom.
Volgens Adam Barnard, een van die organiseerders, het die behoefte aan die lofprysingsaand ontstaan omdat daar, veral onder jongmense, ’n verlange is om die Here deur lofprysing te dien.
“Ons wil hê mense moet kom soos hulle is en die aand saam met ons geniet,” sê Barnard.
Hy verduidelik dat die doel van die aand is om ’n ontspanne omgewing te skep waar mense gemaklik hul liefde vir die Here kan uitleef.
Die lofprysing word gelei deur ’n groep sangers en musikante van NG Kerk Oudtshoorn-Wes, naamlik Hanrü Storm, Philip Boshoff, Elizmari Sieberhagen, David McKinnon, Eduan Strydom, Adam Barnard, Roné du Pisanie, Ruan Strydom, Karin Strydom, Ockert du Pisanie en Salie Nortjé.
Hoewel die aand ontstaan het uit ’n behoefte onder jongmense, beklemtoon Barnard dat almal welkom is om dit by te woon.
“Ons wil graag hê mense moet deur lofprysing nader aan God beweeg en daardie verhouding uitleef met mekaar en die wêreld daarbuite.”
Dit is die tweede lofprysingsaand wat deur die gemeente aangebied word.
Volgens Barnard is daar reeds planne om nog so ’n aand aan te bied, hoewel die datum nog nie vasgestel is nie.
Gemeenskap genooi na lofprysingsaand
