Op 92-jarige ouderdom is daar min dae waarop Honoria Cronjé se hande nie besig is om iets nuuts te skep nie. Waar sommige mense hul aftrede rustig deurbring, vul sy haar dae met wol, naald en papier – en ’n kreatiwiteit wat oor dekades strek.
Die inwoner van die Oudtshoorn Aftreeoord het onlangs ’n dubbelbeddeken in minder as drie maande klaargehekel – net een van vele projekte wat getuig van ’n leeftyd se liefde vir handwerk.
Toe Die Hoorn haar besoek, het Cronjé met groot entoesiasme haar versameling uitgestal. Kleurvolle dekens en kussings, borduurwerk, portrette, naaldwerk en elegante kaartjies van perkamentpapier vul haar woning.
Tussen die skatte is selfs ’n borduur-werk uit 1978 – ’n stille herinnering dat haar liefde vir skeppende werk al lank deel van haar lewe is.
Onder haar gunstelingprojekte tel ook portrette waarvoor sy bestaande prente as basis gebruik en dit met wol en materiaal aanvul om unieke, driedimensionele kunswerke te skep.
Die meeste van haar dae bring sy deur in die sonkamer wat by haar woonstel aangebou is. Met die groot glasvensters wat die winterson innooi, is dit die ideale plek om rustig aan haar volgende projek te werk.
Sy glimlag wanneer sy vertel dat haar oorlede man, Piet Cronjé, voorgestel het dat die oop stoep toegemaak word.
Hoewel dit destyds nie vir haar sin gemaak het nie, is dit vandag die plek waar sy die meeste van haar tyd deurbring – ’n geliefde hoekie waar sy haar hand-werk doen en aan hom terugdink.
Vir Cronjé is handwerk veel meer as net ’n stokperdjie. Die wortels van Cronjé se kreatiwiteit lê by haar ma, wat haar reeds as kind aan handwerk blootgestel het.
“Ma was goed in naaldwerk en het ook vir ons klere gebrei,” vertel sy. Die passie wat destyds by die huis gekweek is, sou later haar eie lewe en die van talle jongmense wat sy onderrig het, verryk. “As ek nie nou al hierdie gedoen het nie, weet ek nie wat op my ou dag sou gebeur het nie,” vertel sy. “Ek sien soms mense sit en wens die tyd om. Daarom is ek dankbaar vir stokperdjies wat my besig hou.”
Cronjé was vir byna 40 jaar in die onderwys. As naaldwerkonderwyser was dit vir haar ’n voorreg om ’n liefde vir handwerk by jongmense te kweek. Sy het onder meer by die destydse Laerskool Oudtshoorn-Suid klasgegee, waar Piet Cronjé vir jare skoolhoof was.
Later was sy ook vir 20 jaar ’n juffrou by Eljada-Kairos Skool.
Sy praat steeds met groot liefde oor haar oorlede man. “Ek mis hom nog elke dag, maar ek is so dankbaar dat die Here ’n engel soos hy oor my pad gestuur het.”
Met ’n glimlag vertel sy dat hy sewe jaar lank probeer het om haar te oortuig om met hom te trou.
Benewens haar jare voor die klas het Cronjé ook sowat 20 jaar lank op die bestuur van die Oudtshoorn Aftreeoord gedien. Sy vertel met trots hoe die bestuur oor die jare gehelp het om ’n hoë standaard by die oord te vestig en te handhaaf.
Op 92 bestuur Cronjé steeds self motor. Toe Die Hoorn haar besoek het, was sy juis op pad na haar gereelde haarafspraak. Sy geniet dit om altyd netjies versorg te wees en mis nie sommer ’n afspraak vir haar hare of naels nie.
Sy is dankbaar dat sy steeds haar onafhanklikheid behou en loop daagliks self na die eetsaal vir etes. Gereelde stappies is ook vir haar belangrik om aktief te bly.
Vir Cronjé is ouderdom geen beperking nie. Haar handewerk, haar onafhanklikheid en haar positiewe uitkyk op die lewe is ’n bewys dat ’n mens nooit te oud is om besig te bly of om iets moois te skep nie.
Wanneer sy klaar is met een meesterstuk, wag die volgende projek reeds geduldig op haar. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Waar kreatiwiteit nooit aftree nie"