Nandie de Wet van Oudtshoorn en haar Ierse wolfhond, Firi, met Firi se beertjieprys wat sy tydens die 5 km-pretdraf by die Calitzdorp Bloeiselfees gewen het.

Bo rus Firi na die wedloop saam met die beertjie. Foto’s verskaf
Deur Liesel le Roux
N JONG Ierse wolfhond van Oudtshoorn het Saterdag ’n stukkie prettige geskiedenis gemaak toe sy aangewys is as die junior-meisieswenner van die 5 km-Wingerdslinger-pretdraf by die Bloeiselfees op Calitzdorp.
Firi (2) het saam met haar eienaar, Nandie de Wet van Oudtshoorn, aan die pretdraf by De Krans deelgeneem en ’n beertjie as prys losgehardloop! Volgens De Wet gaan Firi se nuwe beertjie nou oral saam. “Sy het twee groter bere wat ook oral saamgaan. Sy speel graag met die bere.” De Wet sê dit was die eerste keer wat sy en Firi saam aan ’n wedloop deelgeneem het.
“Ek gaan draf elke oggend met Firi, en omdat honde nie aan professionele wedlope mag deelneem nie, het ek besluit om Firi saam met my vir die pretdraf in te skryf.” Firi, wat se naam die Sothowoord is vir wolf, was twee jaar gelede op Die Hoorn se voorblad toe sy een jaar oud geword en De Wet vir haar ’n “partytjie” met ’n verjaarsdagkoek gehou het. Firi word op 24 September drie jaar oud, en volgens De Wet gaan daar vanjaar weer ’n verjaarsdagkoek wees.