By die inwoners van Cyril Afrika-laan met hul nuwe straatnaamborde is agter links Jackie (Afrika) Mouton, Nataniel van Wyk (voor haar), Nomsa van Wyk (middel agter met sonbril), Joshua Afrika, (tweede van regs agter), Gerty Steenkamp (met sonskerm) en Sinthia Koks (middel regs). Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
IN die 18 jaar wat hy predikant in Prins Albert was, het Cyril Afrika al sy tyd en talente aan sy gemeente gewy. Nou, 12 jaar ná sy dood, wou sy weduwee terugploeg in dié gemeenskap waar haar man in 2007 in die ouderdom van 47 gesterf het.
Jackie (Afrika) Mouton en haar en ds Cyril se twee kinders, Nomsa van Wyk (31) en Joshua Afrika (28), en familie en vriende het die afgelope Saterdag straatnaamborde geskenk aan die vyf inwoners van Cyril Afrikalaan, een van die strate in ’n nuwe dorpsuitbreiding in Prins Albert wat na steunpilare in die gemeenskap vernoem is. Dit was nie al nie: Die vyf gesinne het elk ook kospakkies en ’n inheemse boom as geskenk gekry, “om die rol van my oorlede man in die gemeenskap te gedenk. Hy mag nie vergeet word nie, en ons kinders moet altyd trots wees op wat hul pa in die dorp vermag het”.
Jackie het spesiaal van Malmesbury, waar sy deesdae woon, gereis vir die klein seremonie in Cyril Afrika-laan. Joshua en Nomsa se man. Nataniel van Wyk, en ’n vriend, Calumet Links, het die borde teen die voorkant van elke huis gemonteer.
Saam met hulle was Cyril se suster, Sinthia Koks, en ’n vriendin van Jackie, Gerty Steenkamp.
“Gerty is al drie-en-veertig jaar my vriendin – dit was net gepas dat sy en Sinthia saamkom om vir Prins Albert te wys ons sal dié dorp nooit vergeet nie,” sê Jackie.
Prins Alberters het aan Die Hoorn vertel watter projekte ds Cyril aangepak het: onder meer ’n advieskantoor op Prins Albert sowel as in Calitzdorp, ’n saal in Leeu-Gamka, die Prins Albertse Bejaardesorgsentrum en Bambino Kleuterskool, die vroue- en jeugdiens, gebedsgroepe en Sondagskool, die Christelike Alkoholistebond en aanbiddingsaksies, en ’n koshuis vir 100 leerders op Zeekoegat. Radio Gamkaland, deesdae met ’n uitsaaikantoor in Prins Albert, was ook sy geesteskind.
Die herder van die gemeente het sy houtwerkvaardighede gebruik om doodskiste te maak vir gemeentelede wat dit nie kon bekostig nie.
Jakoba Visagie, ’n onderwyseres van Prins Albert, het aan Die Hoorn gesê ds Cyril was ’n rots in die gemeenskap, “iemand na wie jy altyd kon gaan vir leiding. Jackie was ons pastoriemoeder, na wie ons gemeente ewe veel opgesien het.”
“Maar ons het ook geweet dat ons gesin op Prins Albert kon staatmaak,” het Jackie gesê. “Toe ons pastorie tot op die grond afgebrand het, het ek met die kinders na ’n buurvrou gestap en gesê: ‘Hier is ons; ons kom nou by jou bly.’ Dis hoe ons gemeenskap werk: Jy kan op mekaar reken.”
Volgens haar was Prins Albert die grondslag van haar kinders se prestasies. Nomsa is ’n mediese dokter wat in pediatrie spesialiseer, en Joshua ’n meganiese ingenieur.
Robert Uys en Marleen Fredericks, inwoners van Cyril Afrikalaan, het hul dankbaarheid teenoor die Afrikas uitgespreek.
“Ds Cyril se mense het ons nie vergeet nie, al woon hulle nie meer hier nie,” het Robert gesê.