Eerste kinders van straat na veilige sentrum in Oudtshoorn

Die Cango Wildlife Ranch (CWR) is een van verskeie skenkers wat reeds ’n bydrae gelewer het. CWR het meubels aan die St. Luigi Sorgsentrum geskenk en die span het ook ’n besoek aan die sentrum gebring. Foto: Facebook.

Na agt maande van samewerking tussen regeringsdepartemente, gemeenskapsorganisasies en plaaslike leiers is die eerste kinders wat op straat is, Maandag 9 Maart na ’n veilige sorgsentrum geneem.

Die kinders is na die St. Luigi Scrosoppi Sorgsentrum geneem, waar hulle toegang kry tot ’n veilige omgewing, begeleiding en ontwikkelingsprogramme wat daarop gemik is om hulle ’n nuwe begin te gee.

Die inisiatief het sy oorsprong tydens verlede jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gehad, waar raadsheer Johan Allers, leier van die VF Plus in Oudtshoorn, op die feesverhoog ’n openbare verbintenis gemaak het om die sosio-ekonomiese uitdagings van die Groter Oudtshoorn daadwerklik aan te spreek en besondere aandag te gee aan die lot van kinders wat op straat is.

Volgens hom kan geen gemeenskap vooruitgaan indien sy mees kwesbare kinders nie beskerm en ondersteun word nie.

Sedertdien het die Sosiale Gemeenskapskomitee oor ’n tydperk van agt maande gereelde vergaderings gehou om praktiese oplossings te ontwikkel.

Organisasies wat betrokke is sluit in die Departement van Justisie, St. Luigi Scrosoppi Sorgsentrum, Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Kantoor van die Uitvoerende Burgemeester, SAPD, ACVV, Departement van Gesondheid en Welstand, Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Oudtshoorn en De Rust Toerismeburo, CP Nel Museum, Spiritual Crime Prevention Forum, Departement Kinder- en Gesinsorg, asook Klein Karoo Palliative Care.

“As ons nie sosiale kwessies aanspreek nie, raak dit toerisme. As toerisme ly, vou besighede. En as besighede sluit, verloor mense hul werk. Ons het dus geen keuse as om saam te werk nie,” het Allers gesê.

Tydens ’n vergadering het Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp en die Klein Karoo Atletiekfonds, die rol van sport in die rehabilitasie en herintegrasie van die kinders beklemtoon.

“Ons moet probeer om hierdie kinders by sport in te trek. Eden Sportraad moet betrokke raak. Sport het die krag om lewens te verander,” het hy gesê.

Nog ’n sportleier, Corné Bence, president van Wes-Kaap en Eden Fietsry, het die siening ondersteun en verduidelik dat hulle sportgeleenthede doelbewus naby skole aanbied om deelname onder jongmense aan te moedig en belangstelling in sport aan te wakker.

Adjudant Offisier Jan Combrink het tydens die vergadering ook die belangrikheid van ingryping op gesinsvlak beklemtoon.

“Ons wil die kinders help, maar wie help die ouers? Baie van hierdie kinders kom uit gebroke huishoudings. Dit is tyd dat ouers ook aanspreeklik gehou word wanneer hul kinders nie skool toe gaan nie,” het hy gesê.

Maandag het hierdie visie ’n belangrike mylpaal bereik toe die eerste kinders na ’n veilige versorgingsruimte by die St. Luigi Scrosoppi Sorgsentrum geneem is.

Vaders Mostert en Van Zyl het ruimte by die sentrum beskikbaar gestel waar kinders wat van die straat verwys word ondersteuning, begeleiding en rehabilitasie kan ontvang.

Die sentrum is as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer en bied onder meer vroeë kinderontwikkelingsorg, gedeeltelike dagsorgdienste en verskeie jeugontwikkelingsprogramme wat kinders help om in ’n veilige en ondersteunende omgewing te groei.

Na die suksesvolle eerste verwysings van kinders na die sentrum het raadsheer Allers gesê hierdie stap bevestig wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamwerk om ’n verskil te maak. “Hierdie is nog net die begin. Elke kind wat van die straat af gehelp word, verteenwoordig hoop, nie net vir daardie kind nie, maar vir die hele gemeenskap,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die eerste fase van die projek ’n belangrike rol gaan speel in die sukses van die breër ingryping om kinders wat op straat is te ondersteun, te rehabiliteer en uiteindelik weer in ’n stabiele en veilige omgewing te help integreer.

Enigiemand wat donasies soos speelgoed, toiletware of ander noodsaaklike items wil skenk, kan dit by die toerismekantoor langs die biblioteek in 80 Voortrekkerweg afgee.