Een ton hanepoot te koop by Millenniumpark

Boets Nel van De Krans op Calitzdorp en Elias Olivier tussen die trosse goue hanepoot wat Saterdag by Millenniumpark te koop aangebied sal word. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
CALITZDORP se soet hane­poot­druiwe is landwyd bekend en Saterdag het liefhebbers van hierdie gesogte druifsoort die geleentheid om hiervan by Millenniumpark op Oudtshoorn te koop teen ’n billike prys.

Elias Olivier (86), inwoner van dié afreeoord wat die projek dryf, sê Oudtshoorniete sal Saterdagmiddag vanaf 16:00 die geleentheid hê om hanepootdruiwe, opgemaak in kilogram-pakkies, te koop en dat daar beslis genoeg vir almal sal wees.

“Werkers vertrek vroeg Vry­dagoggend na De Krans in Calitzdorp om een ton druiwe te pluk. Boets Nel, eienaar van die landgoed, verskaf aan ons die druiwe teen ’n spesiale afslagprys,” het Olivier vandeesweek aan Die Hoorn gesê.

Volgens Nel is die hanepoot-oes vanjaar aansienlik kleiner as in die verlede as gevolg van die droogte.

Die korrels is ook kleiner, maar die druiwe het ’n besonder hoë suikergehalte en heerlike soet smaak.

Afgesien van die druiwe word een ton rosyntjies vanaf die Augrabies-omgewing in die Noord-Kaap ook vandeesweek by Millenniumpark afgelewer. Dit sal ook Saterdag te koop aangebied word.

Olivier sê kopers sal die geleentheid hê om van die druiwe en rosyntjies te proe en hulle van die kwaliteit daarvan te vergewis voordat hulle koop.

Volgens hom sal daar ook fasiliteite vir kinders wees waar hulle hulself kan vermaak.

Die opbrengs van hierdie projek gaan volgens Olivier alles aan Millenniumpark geskenk word om die lewensgehalte van die inwoners nog verder te verbeter.

• Nel sê daar is baie druiwe in De Krans se wingerde en besoekers is welkom om ’n besoek aan Calitzdorp te bring, te kom druiwe pluk en die gasvryheid van die dorp te geniet.