Busry na Oudtshoorn vir ID-kaarte

• Polisie, Binnelandse Sake, Maatskaplike Dienste help bejaardes

Bo: Bejaardes uit die Ladismith-omgewing wag vir hul nuwe ID-kaarte op Oudtshoorn.  Foto verskaf

DANKSY ’n inisiatief van die Ladismith Polisie is 164 bejaardes van Ladismith, Zoar, Vanwyksdorp en landelike gebiede soos Voorbaat, Van Zylsdamme en Hoeko op 24, 25 en 26 Julie per bus na Oudtshoorn geneem om hul nuwe identiteits­kaarte by die Departement van Binnelandse Sake te bekom.

Die inisiatief het gespruit uit ’n versoek van die voorsitter van die senior burgers in Ladismith, Pricilla Peceur, by ’n Gemeenskapspolisiëring (GPF)-vergadering.

Ladismith se stasiebevelvoerder, lt kol Jakobus Marthinus, het die bal aan die rol gesit met Binnelandse Sake.

Die Departement Maatskaplike Ontwikkeling het gehelp met die reëlings en vrywaring vir vervoer terwyl ao Arnold Bothma hand bygesit het om die bejaardes veilig na Oudtshoorn en terug te vervoer.

• Rapporteer enige voorvalle van die mishande­ling van bejaardes in die Ladismithgebied by konst Sanet Salmon by tel 028 551 8100.