Deur Garnett Wicomb
DIE Bergsig Primêre Skool in Bridgton, Oudtshoorn se eerste staatskool wat vanjaar 50 jaar oud is, het sy halfeeuvieringe Sondag met ’n dank-seggingsdiens in die Bridgton United Congregational Kerk afgesluit, ’n oud-leerder, dr Esau Willemse, het as prediker opgetree.
Volgens die waarnemende skoolhoof, Brendon Griffin, het die feesvieringe die begin van die jaar afgeskop met ’n kerkdiens, gevolg deur ’n gesinsdag, pretloop, spogdinee en sangaand verlede Saterdag met die Christadelphians-sanggroep.
Simon Swigelaar, ’n voormalige skoolhoof, sê die skool het sy ontstaan in 1968 gehad met ’n besluit van die onderwysdepartement om die Queenstraatskool van die Independente Kerk (waar Headlines vandag is), met klasse in die
Newton Hall in Draaistraat, as ’n staatskool oor te neem. Die skool moes as gevolg van die Groepsgebiedewet na Bridgton verskuif.
Die kerk het toe reeds vier klaskamers in Bridgton gebou wat as die Weyers Gedenkskool bekend gestaan het. Dit is deur die gemeente as aanbiddingsplek benut omdat dit so ver was na die kerkgebou in Queenstraat.
Die staat het in 1968 ’n groot stuk grond van die Oudtshoorn Munisipaliteit gekoop om die klaskamers in Queenstraat, Noord-Einde en Bridgton bymekaar te bring.
Volgens Swigelaar het die skool sy naam gekry van ’n voormalige skoolinspekteur, mnr JF Rauch, wat op ’n Saterdagoggend in 1968 die Weyers Gedenkskool besoek het, en toe hy die berge in die verte sien, in ekstase uitgeroep het dat die skool se naam niks anders as Bergsig Primêr kan wees nie. Die naam is deur die onderwysowerheid aanvaar.
Prinsipale wat Bergsig oor die jare gedien het, was mnre JF Muller, AJ Coerecius, SP Swigelaar, JC Coetzee en Willie Freeks.