Foto: Kansa Shavaton

Foto: Kansa Shavaton

INWONERS van Oudtshoorn kan binnekort by drie geleenthede betrokke raak by vanjaar se Kansa Shavaton – en deur hul hare te kleur of te sny of te skeer ’n bydrae lewer om fondse in te samel vir Kansa (die Kankervereniging van Suid-Afrika).
Vanjaar vier die jaarlikse Shavathon sy 14de verjaarsdag by winkelsentrums regoor die land en tussen 27 Februarie en 3 Maart by werkplekke wat bereid is om betrokke te raak.
Die Shavathon is ’n prettige gebeurtenis wat terselfdertyd mense bewus maak van ’n ernstige siekte. Vir ’n donasie van R50 (R25 vir kinders onder 12) kan mense hul hare skeer of met kleur laat spuit. Hare in poniesterte van 25 cm of langer kan ook aan Kansa geskenk word. Hare wat geskenk word en wat voldoen aan al die nodige vereistes, sal gebruik word om pruike te maak vir kankerpasiënte. Dié pruike word gratis aan die pasiënte verskaf.
Kansa moedig werksplekke, korporatiewe instellings en diensorganisasies aan om betrokke te raak en te registreer as ’n Shavathon-gasheer. Al wat die organiseerders moet doen, is om hulle kontakte uit te nooi om deel te neem, aanlyn te registreer en Shavathon se produkte te bestel by Kansa se eShop (http://www.shavathon.org.za/shop/). Die eShop sluit op 17 Februarie.
Handleidings met inligting oor hoe om ’n Shavaton suksesvol aan te bied, kan afgelaai word by http://www.shavathon.org.za/how-to-organise-your-own-shavathon-event/.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) gaan ook vanjaar kragte by sekere Shavathon-geleenthede saamsnoer. Op Oudtshoorn sal die Bloeddiens op Vrydag 24 Februarie by ’n Shavaton by die Queen’s Mall op Oudtshoorn teenwoordig wees. Die publiek word aangemoedig om op dié dag ook bloed te skenk terwyl hulle aan die Shavathon deelneem. Die Shavaton duur van 08:00 tot 15:00.
Die volgende dag, Saterdag, 25 Fberuarie, sal ’n Shavaton ook by die Checkers-sentrum plaasvind – ook van 08:00 tot 15:00.
Die Klein Karoo Kooperasie reël ’n Shavaton op Vrydag, 3 Maart, vanaf 09:00 – 15:00.