Die NG Moederkerk in Kerkstraat is in 1879 ingewy, 18 jaar nadat bouwerk begin het. Dié historiese foto kom uit die argief van die CP Nel Museum.
KERKSTRAAT is nie net een van die langste strate in Oudtshoorn nie, maar ook ’n skatkis van ou, historiese geboue.
Een van die oudste geboue in die straat is die NG Moederkerk. Hoewel die hoeksteen reeds op 15 Januarie 1861 gelê is, is die kerk eers 18 jaar later, op 7 Junie 1879, ingewy.
Die moederkerk het ’n alle-mintige £22 425 gekos om te bou.
Die kerk is aanvanklik aan die onderpunt van Georgeweg (vandag
Langenhovenstraat waar die Volstruis Emporium is), gebou.
Die dorp se kern het egter noordwaarts geskuif en daar is toe, op ’n vergadering op 7 November 1859, besluit om die kerk te skuif.
Die argitek George Wallis het die gebou ontwerp.
Volgens Hilda Boshoff, geskie-deniskenner, is 3 000 Skotse klipkappers destyds na die Kaapkolonie gestuur. In 1860 is hulle Oudtshoorn toe om te help bou aan die Moederkerk, onder leiding van Thomas Cooper, wat later ’n bekende vakman op die dorp geword het.
’n Knellende droogte het veroorsaak dat die geld opgedroog het, wat die bouwerk vertraag het. Die ander rede vir die oponthoud was omdat daar ’n verskil van sowat vier voet (1.2 meter) tussen die kerk se dak en muur was.
Die vakmanne het die bouplanne verkeerd gelees.
In daardie tyd begin hulle solank bou aan die katolieke kerk en die St Judes-kerk op die dorp.
Tussen 1876 en 1877 is ’n argitek, Carl Otto Hager, aangestel om die probleem met die gebou reg te stel.
Hager het per skip na Mosselbaai gereis en is toe met ’n vierperdewa Oudtshoorn toe gebring.
Omdat die klip in Oudtshoorn so besonders is en van uitstekende gehalte, is daar besluit om die preekstoel uit sandsteen te beitel.
Die vyf engele wat om die preekstoel pryk, is gebeitel om soos ’n dogtertjie met die van Van Rooyen te lyk, maar verder is daar nie inligting oor haar beskikbaar nie.
Aanvanklik is ses engele bestel, maar net vyf het Oudtshoorn gehaal.
Wat van die sesde een geword het, weet niemand tot vandag toe nie.
Nog ’n merkwaardige landmerk in Kerkstraat is die hangbrug.
Die hangbrug is in 1913 ontwerp deur ’n Skotse firma Edward Rowley & Seuns, wat in Londen gebaseer was.
Daarna is die brug Suid-Afrika toe gestuur en hier in Oudtshoorn aanmekaar gesit.
Die brug is sowat 91 meter lank, met die torings aan beide kante wat nege meter in die lug staan.
Die brug is oorspronklik gebou vir inwoners van Wesbank om hulle met die res van die dorp te verbind, omdat die laagwaterbruggies oorstroom het wanneer dit baie gereën het.
• Dankie aan Hilda Boshoff van Oudtshoorn vir haar hulp met dié inligting. (Deur Angelique Eramus)
Hangbrug ’n baken
Dié ou foto van die hangbrug pryk in die CP Nel-museum.
Die brug het menige kunstenaars al geïnspireer, insluitend Kobus Spies.
Die hangbrug is in 1964 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die brug is in 1914 voltooi.
