Die Oppermans trek saam!

Lede van die Opperman-familie by die Oppermanlaan-straatnaambord in Zoar. Foto verskaf

DAT die saamtrek van die Oppermans van ZAL – wat gedurende Erfenis-naweek (24 tot 26 September 2021) in Zoar, Amaliestein en Ladismith se omgewing plaasgevind het, onvergeetlik was, blyk die algemene sentiment te wees van diegene wat hierdie eerste en historiese byenkoms bygewoon het, sê een van die orga­niseerders, Sydney Opperman.

Opperman sê volgens Chrisando Meyer van Vredenburg het sy nog nooit so iets beleef nie.

“Hy het verwys na die feit dat hy nie die oorspronklike Opperman DNS dra nie, maar tog deel kom word het van die Oppermans toe hy met Nora, dogter van Marie Opperman, getrou het, verduidelik Sydney Opperman.

“Die Oppermans besef dat God mense by die stamboom ingeënt het om sodoende die kwaliteit van die “vrug” te verbeter!
Volgens Carel Jacobs, agter­klein­kind van Simon Opperman, was die eenheid en liefde wat hy tydens die naweek ervaar het, onbeskryflik.

Die Oppermans het volgens Sydney op Saterdag 25 September uitdrukking gegee aan die Goddelike opdrag van “belyning” deur die Oppermanlaan-straatnaambord in Zoar, wat skeef gestaan het, regop te druk.

“Dit was ongetwyfeld ook ’n de­monstrasie van die familie se verbintenis om ’n positiewe bydrae tot die herstel en opbou van die gemeenskappe in die areas te lewer.”

Een van die hoogtepunte van die naweek was die amptelike vrystelling van die Erfsaad 1-boek.
Rachel Mooney se skrywe, Op my spore terug, wat hierin vervat is, was die inspirasie van hierdie bundel wat ook bydraes van ander familielede bevat.

Natasia Ryneveldt, ook ’n nooi Opperman, is bedank vir die inisiatief en samestelling van die boek.

Oppermans wat uit Zoar, Amalienstein, Ladismith en die Calitzdorp-gebied hul oorsprong het, word uitgenooi om betrokke te raak by hierdie familie-inisiatief. Hulle kan kontak maak op Die Oppermans van Zoar-Facebook-groep of ’n e-pos stuur na oppermansvanzal@ gmail.com, stuur vir meer inligting.

Volgens Sydney Opperman word die volgende familiereünie vir September 2023 in Houtbaai beplan. (Deur Garnett Wicomb)

1 Comment on "Die Oppermans trek saam!"

  1. El is n vol bloed Opperman. Skool gegaan by EK Primer in Zoar

Comments are closed.