Borgtog geweier vir oud-balju

DIE borgaansoek van ’n oudbalju, Abrain Coerecius (42), is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof tersyde gestel. Coerecius het om borgtog aansoek gedoen nadat sy aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis van 36 jaar in die Kaapse Hooggeregshof geslaag het.

Coerecius het homself as ’n prokureur voorgedoen en huise en erwe aan mense verkoop wat hy in werklikheid nie besit het nie, en is skuldig bevind op ses klagtes van bedrog en een van geldwassery. Hy is tot altesaam 44 jaar gevangenisstraf ge­vonnis waarvan ses jaar samelopend met van die ander vonnisse uitgedien kan word. Hy het om borgtog aansoek gedoen hangende die uitslag van sy appèl.

Sy regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het die hof versoek om in belang van geregtigheid borgtog toe te staan omdat hy nie ’n vlugrisiko is of enige ander hangende sake teen hom het nie.

Hy het ook regdeur sy verhoor nooit weggebly van die hof nie en sal alle borgvoorwaardes wat die hof mag bepaal, nakom.

Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê Coerecius het nie teen sy skuldigbevinding geappelleer nie en sal steeds tronkstraf moet uitdien, al sou die hooggeregshof sy vonnis verminder. Dat hy buitestraf sal kry, is nie moontlik nie.

Hy is aan ernstige misdrywe skuldig bevind met baie mense wat hul swaarverdiende geld verloor het.

Volgens haar kon sy dalk borgtog toegestaan het indien sy aansoek teen die skuldigbevinding was. Hy besef egter dat hy baie mense mislei het deur hom as prokureur voor te doen en dat die streek-hof nie fouteer het met sy skuldigbevinding nie.

Die proses in die hooggeregshof kan volgens die landdros tot ses maande duur. (Deur Garnett Wicomb)