Selfdood in kollig by besoek van AfriForum se teenboeliespan

Die sensitiewe onderwerp van selfdood was tydens ’n besoek van AfriForum aan die Hoërskool Oudtshoorn in die kollig. Hier voor van links is Kai Barry (onderhoofmeisie), Annalize van der Westhuizen (hoofmeisie), Reece Wheeler (hoofseun), Arno Greyling (AfriForum: Suid-Kaap-distrikskoördineerder), Troy Meiring (onderhoofseun), Ferdi Human (waarnemende adjunkhoof) en Gerhard Nieuwoudt (AfriForum: Stellaland-distrikskoördineerder). Foto verskaf

DIE sensitiewe onderwerp van selfdood en die voorkoming daarvan was op 26 Oktober die fokuspunt van ’n besoek deur AfriForum se teenboelieveldtogspan aan die Hoërskool Oudtshoorn.

Tydens ’n bewusmakings­praat­jie oor die onderwerp is leerders ingelig oor onder meer waarskuwingstekens, statistiek, waarom selfdood plaas­vind, hoe om met iemand te praat wat selfdood oorweeg en hoe om iemand te help wat selfdoodnei­gings het.

Die praatjie is afgesluit met ’n uitno­diging aan onderwysers en beheerliggaamlede om ’n selfdoodvoorkomingsnetwerk op die dorp te stig.

“Die jeug is ons toekoms. Dis vir Afri­Forum ’n groot voorreg om hier­die inisiatief aan te pak en ’n praatjie aan te bied wat ’n verskil kan maak. Ons bemagtig die jeug, ons bring hoop en ons maak ’n verskil in die lewens van ons jongmense. Dis ’n groot voorreg, maar ook ’n groot ver­antwoordelikheid,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se Stellaland- distrikskoördineerder.

Hy voeg by: “Selfdood is ’n baie sensitiewe onderwerp en ook die rede waarom dit nie genoeg bespreek word nie. AfriForum se hoofdoel met hierdie praatjie is om tieners en onderwysers te bemagtig met die nodige inligting sodat hulle proaktief kan optree en waarskuwingstekens kan raaksien.”

Nieuwoudt sê die besoek by die Hoërskool Oudtshoorn was baie suksesvol, met leerders en leerkragte wat AfriForum bedank het vir die wyse waarop dié moeilike onderwerp hanteer is.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery en selfdood in skole hok te slaan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeug­leierskap.

“Op hierdie manier kan veilige gemeenskappe verseker word, nie net nou nie, maar ook in die toekoms.

“Die teenboelie- en selfdoodbewusmakingsveldtog wil kinders toe­rus met die nodige kennis en vaar­dighede om as leiers in situasies op te tree waar afknouery plaas­vind, met ander woorde om boeliebestand te wees, asook om hulle te bemagtig met die nodige bewusmaking oor selfdood.”

Sowat een miljoen mense sterf jaarliks as gevolg van selfdood. Wêreldwyd sterf daar elke 40 sekondes iemand as gevolg van selfdood. Selfdood is ook die tweede hoofoorsaak van sterftes in die ouderdomsgroep tussen vyf en 19 jaar.

Suid-Afrika se beraamde selfdood­syfer van 13,4 mense per 100 000 is ongeveer vier keer die wêreldkoers van 3,6 per 100 000.

Elke dood is ’n tragedie vir familie, vriende en kollegas, skryf AfriForum in ’n persverklaring.

Selfdood kan egter voorkom word. AfriForum het ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om bewese selfdoodvoorkomingstrategieë op ’n volhoubare wyse in nasionale gesondheids- en opvoedingsprogramme in te sluit.

Volgens dié burgerregteorganisasie is selfdoodvoorkoming en -intervensie nood­­saaklik binne enige geestesgesondheidsprogram en moet dit ’n skoolbena­de­ring behels wat bewusmaking en op­leiding vir personeel en leerders insluit.

“Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Daar is ’n uitweg, daar is hoop. Daar is hulp beskikbaar. Hoe meer ons openlik oor selfdood praat, hoe makliker en vinniger gaan ons die stigma rondom selfdood vernietig,” skryf AfriForum.

• Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting.