Foto slegs vir illustrasiedoeleindes.
Deur Stefaan Verlinde
MET die verandering van die president is die vertroue in die ekonomie van Suid Afrika herstel.
Mense is hoopvol wat die toekoms betref en is weer meer geneig om te belê in vaste bates.
Ook die verkoop van huise het sedert die nuwe jaar ’n aansienlike toename getoon.
Bevestiging met my kollegas landswyd dui aan dat die verkope van eiendomme ’n opwaartse kurwe toon en daar tans selfs ’n tekort is aan verkoopbare eiendomme.
Hiermee word eiendom wat reg geprys is, bedoel.
Seeff Oudtshoorn het sedert die begin van die jaar al 20 eiendomme verkoop vir ’n totale waarde van amper R18 miljoen. ’n Paar eiendomme het selfs vir meer verkoop as die vraprys!
As mens kyk na die tendens van verkope die afgelope jaar blyk die volgende: Pryse van eiendomme in Wesbank het gemiddeld met 5,5 % gestyg, wat omtrent presies die verbruikersindeks is.
Die aantal verkope het net minder as 20% gestyg (van 97 na 116 eiendomme verkoop). Die gemiddelde verkoopprys in 2017 was R1 055 000.
Sentraal se syfers lyk minder rooskleurig.
Die gemiddelde prys het dieselfde gebly (R668 000 in 2016, R670 000 in 2017), wat beteken dat as ons die verbruikersindeks in berekening bring, het huispryse met ongeveer 5,5% gedaal. Die aantal huise wat verkoop is, is nagenoeg dieselfde in 2017 as in 2016.
Die totale aantal verkope in die Groter Oudtshoorn was 300 in 2017 teenoor 240 in 2016; die gemiddelde prys was R840 000 teenoor R992 000 in 2016.
Hierdie syfers is egter nie baie aanduidend van die eiendomsmark nie en hou geen rekening met die tipe huise wat verkoop word nie.
Tans verkoop huise wat nuut is of opgeknap is met oopplan-kombuise, moderne badkamers en kleiner tuine die beste. Ook eiendom in sekuriteitskomplekse verkoop uitstekend en be- haal goeie pryse.
Een ding is seker, as u beplan om u eiendom te verkoop, is dit nou die regte tyd.