Union Stars verloor net-net hafleindstryd

Deur Wyndham Ewerts
Union Stars van Oudtshoorn het Saterdag op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) hul halfeind-wedstryd om die SWD T20 Krieketbeker naelskraap verloor toe Pioneers van Plettenbergbaai die wenteiken met slegs drie balle oor behaal het.

Die tuisspan, wat die loot gewen en eerste gekolf het, het 166 lopies vir ses paaltjies in hul toegelate boulbeurte op die telbord geplaas het.

Die hotklou-aanvangskolwer Yamkela Oliphant het ’n sprankelende 68 lopies gemoker van slegs 47 balle. Sy kragbeurt het sewe viere en drie sesse ingesluit. Hy is goed bygestaan deur die kaptein Pieter Stuurman (26).

Union Stars was in ’n stadium in die wedstryd in ’n baie goeie posisie om die wedstryd te wen, maar ’n onoorwonne honderdtal deur Brendon Louw, sterkolwer van Pioneers, het die wedstryd vir die besoekers deur die drif getrek. Pioneers het die wenlopie geslaan met ses paaltjies nog staande en slegs drie balle in die wedstryd oor.

Die T20-eindwedstryd is deur George gewen. Hulle het Pioneers met 33 lopies geklop om as SWD se T20-kampioene gekroon te word.