Staatstoelae belangrike rede
Ek wil graag kommentaar lewer op twee berigte wat in Die Hoorn van 4 Oktober verskyn het.
“Nou verstaan ek ook” deur dr Johan Strasheim oor sy toer na Egipte in 2003 lyk dan soos ’n spieëlbeeld van die nuwe Suid-Afrika! Nou verstaan ek ook, dr Strasheim. Meer woorde sal oortollig wees! Soos die Bybel skryf: Niks is nuut onder die son nie – dit wat is, was reeds!
Ten opsigte van die tienerswangerskap-toename: Die belangrikste rede hiervoor is na my mening nie genoem nie, naamlik die staatstoelae vir kinders! Kinders word dan betaal om kinders te hê! Wat verwag u, Minister van Gesondheid?
’n Moeder het eendag in my teen-woordigheid voor haar tienerdogter gesê: As jy ’n kar wil hê, moet jy baie kinders maak, my skat! Nogal ’n onderwyseres! Kan jy dit oorvertel!
Nou ja, niks in die lewe verstom my meer as die dwaasheid van die mense van ons tyd nie!
– Nico Ungerer, Oudtshoorn
Help so met Gap Housing
Ek weet nie wat die Oudtshoorn-raad se voornemens met die leë erwe in Bongolethu, Bridgton, Noord-Einde en Wesbank is nie, maar wil ’n pleidooi lewer dat hulle dit nie moet vervreem deur middel van veilings of tenderprosedures nie. Die mense wat finansieel vermoënd is en reeds hul eie huise en selfs nog twee of drie besit, en ontwikkelaars gaan die pryse opjaag en sal eerste huiskopers nie ’n kans staan om ’n erf te bekom nie. Selfs nadat hulle dit gekoop het, gaan hulle huise daarop bou wat weer teen onbekostigbare pryse verkoop word.
Die aanvraag na behuising deur eer-stehuiskopers in die middelinkomstegroep vir bekostigbare behuising in Oudtshoorn is oorweldigend. Hulle val in die Gap Housing-groep en geniet finansiële ondersteuning van die regering wanneer hulle ’n huis koop (R3 500 – R15 000), maar ongelukkig is daar in hierdie mooi dorp van ons nie huise in hul prysklas beskikbaar nie. Indien hierdie erwe gratis of teen ’n miniminale bedrag direk aan hulle beskikbaar gestel word, sal dit vir baie ’n uitkoms wees en ’n positiewe beeld van dienslewering en omgee deur die raad die strate instuur. Dit sal ooreenstem met die
grondhervormingkwessie wat tans die besprekingspunt in die land is.
Ek is nie vertroud met die Raad se huidige behuisingsbeleid nie, maar die feit dat huiseienaars van Rosevalley net nadat hulle huise ontvang het, dit uithuur, spreek van ’n ernstige leemte in die beleid. In hierdie geval sal die koopsooreenkoms tussen die eerste huiskopers en die raad baie duidelik moet stipuleer dat daar nie gespekuleer mag word nie en die erf uitsluitlik gebruik gaan word vir die bou van ’n huis wat deur die eienaar self bewoon gaan word.
Die Minister van Menslike Nedersettings, Nomandia Mfeketo het juis verlede week op ’n vraag in die parlement gereageer en gesê dat haar departement besig is om goed geleë grond naby openbare vervoernetwerke te identifiseer “wat hul waarskynlik die ruimtelike nalatenskap van apartheid sal transformeer”. Verder het sy ook genoem dat die staat reeds begin het om strategies geleë grond vir dorpe te identifiseer om in die nabye toekoms “bekostigbare” huise daarop te bou.
Ons raad het nou die geleentheid om te wys dat hulle die politieke wil het en selfs die minister ’n punt voor is.
– Japie Coetzee, Oudtshoorn
(Die brief is aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie. Die reaksie sal geplaas word sodra dit ontvang word. _ Redakteur)
Nooi alle begrafnisondernemers vir ’n vergadering!
Ek verwys na die berig, Moedeloos oor skewe grafte vol rommel, in Die Hoorn van 4 Oktober.
Hierdie berig is die waarheid… en julle moet onthou dis die familie wat meer as R2 000 betaal vir ’n graf wat volgens munisipale verordeninge (bylaws) korrek gegrawe afgegee moet word aan onderne- mers, wat dan die reuse taak het dat hul personeel verder moet werk aan die graf om dit “presentable” te kry vir die begrafnis.
Daar moet met planke ’n dek gebou en toegemaak word met hordes matte om te voorkom dat begrafnisgangers moontlik kan inval.
En nou sê die munisipaliteit dat die ondernemers die munisipaliteit moet kom spreek as daar probleme is.
Ons hét al met hulle vergader… menige maal… ook in die begraafplaas om probleme uit te wys, maar níks het verander nie.
Hulle bekommer hulle min oor die produk wat hulle aan die gemeenskap van Oudtshoorn lewer. Dis ’n skande dat hulle dit goeie dienslewering noem, en absoluut belaglik wat hulle dink is goed en reg.
En die gemeenskap moet dit maar na-week vir naweek aanvaar en ondernemers moet maar elke slag verder werk aan die grafte wat veronderstel is om in ’n puik toestand afgegee te word.
Die geld wat betaal word, is puik en reg!
Ons is al moeg baklei namens die gemeenskap, maar niks verander nie!
Ons moeg is al moeg!
Laat die Gemeenskapsdienste-departement ons ’n slag nader en vir ons vertel hoe goed hul dienste is en wat hul alles reg doen vir die gemeenskap van Oudtshoorn.
Ek daag die Munisipaliteit uit: nooi alle begrafnisndernemers vir ’n vergadering, en verklaar dan aan ons hoe jul produk lyk volgens die wetgewing wat deur julleself geskryf is.
Van dan af sal ons in jul goeie dienslewering glo. Menere van die munisi- paliteit… weet u hoeveel ondernemers hier in Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust is aan wie julle goeie diens moet lewer?
Ek glo nie, want ek moes vir julle ’n databasis van ondernemers opstel; glad nie so lank gelede nie!
Dis mos skandalig! Nooi ons vir ’n vergadering. Ek daag u uit!
– Mathilda le Roux, New Horizons Begrafnisdienste, Oudtshoorn