Skouspel van vernuf is hier!

Deur Liesel le Roux
VERWAG ’n week se skouspel van kleur, vernuf en vaardigheid nadat die Suid-Afrikaanse Trom­poppiekam­pioen­skap Saterdag op die Rec op Oudtshoorn afskop.

Die trompoppies van ’n indrukwek­kende sewe skole van die Groter Oudts­hoorn is onder die land se kwalifiseerders vir dié toernooi waaraan slegs die land se topspanne deelneem – 18 laerskool- en 19 hoërskoolspanne.

Die plaaslike spanne is van die Hoër­skool Oudts­hoorn, Laerskool Van Reede en Sacred Heart Primêr wat in die Elite-afdeling deelneem, en van Bridgton Se­kon­dêr, Hoërskool Môrester, Hoërskool De Rust en Colridge Primêr wat aan die Presidentsliga deelneem.

Saterdag (30 Junie) vind die “Cheer leading” plaas, Sondag tot Dinsdag (1 tot 3 Julie) die Presidentsliga en Woensdag tot Saterdag (4 tot 7 Julie) die Elite-liga.

Toegang is R50 op Sondag, Maandag, Woensdag en Donderdag en R70 op die ander dae.

Die kampioenskap begin op Saterdag om 10:00 en op die ander dae tussen 07:30 en 08:00.

• Vredestraat sal tydens die kampioenskap gedeeltelik gesluit wees aangesien die deelnemers daar per bus afgelaai sal word. Toeskouerparkering sal op die Vredestraat Sportterrein beskikbaar wees.

Ingang vir verkeer is slegs vanaf ­Langenhovenweg.