Deur Garnett Wicomb
’N Oud-korporaal van die Weermag wat reeds ’n lewenslange vonnis uitdien vir verkragting, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof tot nog 14 jaar tronkstraf gevonnis vir verdere oortredings.
Bhekumuzi Shabangu (29) is skuldig bevind daaraan dat hy in 2016 ’n vrou in die middedorp van Oudtshoorn verkrag en ’n ander twee keer met ’n skroewedraaier gesteek het.
Shabangu het die twee vroue die betrokke aand in die ou Bagley’s Nagklub ontmoet en later saam met hulle na ’n kitsbank gestap om geld vir kos te gaan onttrek.
Hy is daar deur drie mans beroof en toe ’n skroewedraaier val, het hy die een vrou daarmee gesteek omdat hy van mening was sy ken die drie mans.
Daarna het hy die ander vrou uit weerwraak verkrag.
Shabangu het skuld beken en is gevonnis tot vier jaar tronkstraf vir aanranding om ernstig te beseer en tien jaar vir verkragting.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Shabangu het die reg in eie hande geneem en dat ’n plig op die hof rus om te keer dat die gemeenskap reg in eie hande neem. Geen wesentlike of dwingende getuienis is voor die hof gebring om af te wyk van die voorgeskrewe minimum-vonnis van tien jaar nie.
Die feit dat die beskuldigde in die lig van MIV/Vigs nie ’n kondoom gebruik het nie, is verswarend.
Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien kan word.