Die stompe, takke en opdrifsels wat verlede Woensdag deur roeiers uit die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se drinkwaterdam, verwyder is, is Vrydag deur munisipale werkers verwyder na ’n gebied bokant die hoogwatermerk sodat dit nie weer in die dam beland as die watervlak styg en reën water na die dam laat stroom nie. Foto: Johan Uys
Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Mmunisipaliteit het gister inwoners steeds versoek om Oudtshoorn se kraanwater te kook voordat hulle dit drink.
Volgens Johan Uys, bestuurder grootmaatwater by die munisipaliteit, word die uitslae van die nuutste drinkwatertoetse vandag (Donderdag) verwag en sal inwoners in kennis gestel word sodra dit veilig is om die water te drink.
Die munisipaliteit het Vrydagoggend ook inwoners in ’n persverklaring gevra om voorlopig voort te gaan om drinkwater te kook nadat ’n geringe E. coli-telling nog op een plek in die dorp getoets is. Die uitslae van watermonsters wat die Eden Distriksmunisipaliteit se Gesondheidsafdeling verlede Dinsdag op vier plekke in die dorp se waterverspreidingsnetwerk geneem het, het getoon dat drie plekke geen E.coli bevat nie, terwyl daar by een plek ’n E. coli-telling van 2 was.
Die verklaring lui: “Inwoners word nog steeds aangeraai om die water vir so drie minute te kook voordat hulle dit drink. Die kook van die water verwyder nie die modderigheid nie, dit sal nog steeds daar wees. Die modderigheid maak mens egter nie siek nie, dis die bakterieë wat moontlik in die water is, wat mens siek maak. Daarom is dit nodig om die bakterieë dood te maak en die kook van die water doen juis dit. Gekookte water, al is dit modderig, is veilig om te drink.”