
Erik van Rooyen hou die Eye of Africa-trofee in die lug. Foto: Petri Oeschger/Sunshine Tour
Deur Ben du Preez
DIE oud-Struisie Erik van Rooyen het verlede naweek die Eye of Africa-PGA Gholftoernooi by die Signature Golfbaan in Eikenhof, Johannesburg, gewen. Die totale prysgeld van die toernooi is R1,5 miljoen.
Dit is die eerste PGA Sunshine-toernooi wat Van Rooyen gewen het.
Hy het dit egter nie vir homself baie maklik gemaak nie, en eers die toernooi in ’n uitspeelronde gewen. Ná die vierde ronde was Van Rooyen sowel as Dylan Frittelli en Makhetha Mazibuko se tellings 272 houe. Die uitspeelronde was vanaf die 16de putjie met die eerste speler wat sy neus kon voorkry, die wenner.
Van Rooyen het ’n uitstekende naderhou op die sestiende geslaan. Sy bal het 30 cm van die pen tot stilstand gekom. Hy het hierna die bal ingerol vir ’n voëltjie en ’n oorwinning.
Van Rooyen het reg deur die toernooi bestendige golf gespeel met rondetellings van 69, 68, 68 en 67.
Ná die wedstryd het Van Rooyen gesê dit is moeilik om sy gevoelens te beskryf. Hy het al verskeie kere die afgelope paar jaar aan die toernooi deelgeneem, en hy is baie opgewonde oor sy eerste oorwinning in die reeks. Dit hoort beslis sy selfvertroue die wêreld se goed te doen.
Volgens Van Rooyen lê daar drie baie belangrike toernooie vir hom voor, die Dimension Data Pro-Am, die Johannesburg Ope en die Tswane Ope.
As hy in dié toernooie goed vaar, kan dit vir hom die deur oopmaak om internasionaal mee te ding.
Van Rooyen vertel hy was baie goed voorbereid vir die Eye of Africa. Hy het die afgelope paar weke ook verskeie kere op die Royal Johannesburgbaan en die Pretoria Buiteklubbaan, waar die volgende toernooie gaan plaasvind, gespeel.
• Van Rooyen het in 2008 aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer en was toe al ’n uitblinker op die gholfbaan.
Sy pa, Wim, was destyds die uitvoerende direkteur van die leerafdeling van Klein Karoo International is is nou in diens van GWK op Douglas.